PRINS ALBERT NUUS - Die eienaar van 'n supermark en drankwinkel is tans in 'n regsgeding met die munisipaliteit gewikkel oor 'n beplande ontwikkeling op twee erwe oorkant sy perseel langs die hooftraat.
Die munisipale administrasie word daarvan beskuldig dat omliggende besighede en grondeienaars gebrekkige inligting, en in sommige gevalle selfs geen inligting, ontvang het oor die aansoek om konsolidasie, hersonering en vergunningsgebruik van die twee woonpersele nie.
Ferdi Coetzee, eienaar van Spar/Tops, en Fourie Munro, die bestuurder, het die regsgeding bevestig. Volgens Coetzee en Munro het hulle aan die begin van die maand bewus geword van 'n ontwikkelaar se aansoek by die munisipaliteit om 'n opponerende kruideniers- en drankwinkel oorkant Spar te bou op erwe wat tans as woonerwe gesoneer is. Hulle is glo nooit formeel deur die munisipaliteit hieroor genader nie terwyl dit 'n wetlike voorskrif is om omliggende partye in kennis te stel van so 'n aansoek.
Huiseienaars langs die oop erwe het Coetzee en Munro hieroor ingelig. Dit blyk dat sommige van die huiseienaars in Mei munisipale briewe ontvang het waarop hulle kommentaar kon lewer. Hulle het aan Oudtshoorn Courant gesê sedert die indien van hul besware begin Mei het hulle nooit weer 'n woord van die munisipaliteit gehoor nie.
Dit blyk verder dat die ontwikkelaar tans fluks besig is om konstruksiemateriaal op die persele af te laai. Volgens DA-raadslede het die bouaansoek nog nie voor die raad gedien nie en hulle dra ook geen kennis van die beplande ontwikkeling nie.
Volgens Coetzee is sy geskrewe vrae aan Anneleen Vorster nie beantwoord nie. "Ons moes by die gemeenskap hoor van die ontwikkeling. Selfs ná my telefoniese navrae en Fourie se persoonlike besoek aan haar, is geen van die aangevraagde dokumentasie met ons gedeel nie. Ons moes toe prokureurskostes aangaan om 'n brief aan haar te rig om die dokumentasie te kry. Tot op hede weet niemand wat presies daar beplan word nie."
Volgens Coetzee het Spar se prokureur 'n versoek aan Vorster se kantoor gerig om Spar op skrif die voorgeskrewe tyd vir kommentaar te gun. Daar is egter geen reaksie teen die spertyd van verlede Vrydag om 12:00 ontvang nie.
Vorster se kantoor het teen druktyd nog nie op een van Oudtshoorn Courant se skriftelike navrae die afgelope twee weke gereageer nie.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'