KANNALAND NUUS – 'n Karwasbesigheid in Ladismith waaroor Oudtshoorn Courant in Januarie vanjaar berig het was twee weke gelede verantwoordelik vir 'n groot opskudding toe die kykNet Program, KLOP, KO Laat Ons Praat, 'n opname oor die jong entrepreneur, Brandon 'Brakkies' Ayslie kom vervaardig het.
Die inhoudsredaktrise van KLOP, Stephanie Pekeur het op Oudtshoorn Courant se Facebook-blad die spesifieke berig gelees en volgens Pekeur kyk sy juis na eienskappe wat 'n persoon laat uitstaan bo sy omstandighede.
Brakkies Carwash se onderhoud het eers by sy huis, waar hy aanvanklik begin karre was het, begin.
Gedurende die onderhoud het Brandon die rol van 'n plaaslike taxi-eienaar, Boetie Kedoet, onderstreep. Volgens hom was dit by Kedoet waar hy eers taxis gewas het en hy het hom ook aangespoor om sy eie besigheid te begin.
Dit het Brandon toe wel later gedoen, maar eers nadat sy skof by 'n plaaslike kaasfabriek geëindig het. Sy primêre werk het egter te veel druk op hom geplaas en het hy toe besluit om voltyds op sy eie besigheid te konsentreer.
Vandag is Brandon se besigheid, Brakkies Carwash, so uitgebrei dat hy selfs 'n paar jong seuns 'n kans gebied het om 'n sakgeldjie te verdien. Hulle is veral naweke wanneer die vraag groot is, aan diens.
Hierna het die kykNET, teruggekeer na Brakkies se huidige perseel naby die sakekern. Brandon se ouers, Merle en Julian, het gesorg dat die mediaspan iets soet te ete kry, eie aan Ladismith-gasvryheid.
Van links is jong seuns wat tans oor naweke werksaam is by die karwasbesigheid: Donay Williams, Ruben Radloff, Crystyl-Donna Robert, Jason Frieslaar. Foto's: Deon Meyer
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’