OUDSTHOORN NUUS - Raadslid Sonia Bentley van Good is Woensdag by die Schoemanspoort Kultuursentrum as die nuwe speaker van die Oudtshoorn munisipale raad verkies. Die twee nominasies vir die posisie was Bentley en Raymond Wildschut van die DA.
Bentley het die stemproses met 14 stemme teenoor 11 gewen.
Met die aanvang van die raadsvergadering is 'n mosie van wantroue teen die speaker, Colan Sylvester, teruggetrek nadat Sylvester aangedui het dat hy formeel bedank.
Bentley het in haar aanvaardingstoespraak gesê dat sy onderneem om met die ondersteuning van al die raadslede, Oudtshoorn vorentoe te vat. Sy het ook beklemtoon dat sy te alle tye volgens die boek sal handel in die uitvoer van haar pligte en om totaal en al onpartydig op te tree.
Die leier van die opposisie, Chris McPherson van die DA, het Bentley gelukgewens met haar nuwe posisie en gesê dat hy haar by haar belofte gaan hou om te alle tye onpartydig op te tree.
Die ANC se Nomsa Jaxa het op haar beurt gesê dat dit verblydend is om te sien dat vroue erken word in die politieke arena en met 'n speakerposisie vertrou word. Ook die voormalige speaker Sylvester, het Bentley sterkte toegewens in haar nuwe amp.
Direk na die nuutverkose speaker se inhuldiging is 'n kennisgewing van mosies van vrae deur raadslid Joey Canary (ANC) aan die raad voorgelê wat deur Johan Fourie (DA) gesekondeer is.
Die vrae het onder meer gehandel dat die raad voorsien moet word van 'n lys vaste residensiële eiendomme en 'n verslag oor wie die afgelope 10 jaar die wonings gehuur het sodat die raad die beleid kan hersien indien nodig. Die raad moet ook volgens die mosie van vrae voorsien word van 'n verslag wat die bedrae aandui wat gespandeer is ten opsigte van instandhouding en opgraderings. Die moontlikheid dat die raad die ter saaklike residensiële eiendomme aan die publiek sal verhuur of verkoop sal ook ondersoek word.
Raadslid Leon Campher van die Advieskantoor het voorgestel dat daar ook vooraf na die moontlike regsimplikasies gekyk kan word sodat die kwessies terselfdertyd bespreek kan word. Die raad het op hierdie kennisgewing van mosie van vrae besluit om die aangeleentheid einde Februarie te hersien.
Raadslid Sylvester het 'n mosie ter tafel gelê om 'n skrywe na die Nasionale Energie Reguleerder van Suid-Afrika (Nersa) te rig teen Eskom se moontlike tariefverhoging van 20%. Hierop het die burgemeester, Chad Louw (ANC), gereageer en gesê dat hy reeds van voorneme is om ingevolge sy 100 dae plan 'n soortgelyke skrywe aan Nersa te rig waarop McPherson (DA) voorgestel het dat die skrywe beter ontvang sal word as 'n kollektiewe munisipale raad.
Vorige artikel: Bentley van GOOD verkies as nuwe speaker
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'