OUDTSHOORN NUUS - ACVV Helen Bellinghanhof het onlangs 'n broodnodige meevallertjie vanaf Dankie Lottoland ontvang.
Dankie Lottoland is 'n program op kykNET waar Lottoland, Suid-Afrikaners se wense vervul. Sr. Colleen Fourie, bestuurder van ACVV Helen Bellinghanhof vertel dat hulle deur een van hul oorlede pasiënte se huweliksmaat genomineer is vir die wonderlike skenking.
Carla Aucamp se man was vir sewe maande 'n inwoner van die tehuis se spesiale sorgeenheid toe hy in Augustus oorlede is.
Aucamp was so dankbaar vir die liefde, ondersteuning en goeie werk wat Bellinghanhof vir haar en haar man gedoen het dat sy die tehuis vir Dankie Lottoland genomineer het.
Fourie vertel dat sy Oktober met verlof in Addo-olifantpark was toe sy 'n oproep vanaf Homebru-films ontvang het. "Ek moes tussendeur slegte opvangs en vakansiehou al die papierwerk vir hulle deurstuur," vertel Fourie. Die verfilming van die program het op 19 en 20 Oktober by Bellinghanhof plaasgevind. Sy vertel dat hulle self vir Aucamp in George opgetel het en haar ook deelgemaak het van die program.
Edrien Erasmus, Afrikaanse sanger, aktrise en skrywer was die aanbieder van dié uitgawe. Bellinghanhof het R180 000 vanaf Dankie Lottoland ontvang waarvan R80 000 vir die opknapping sal gaan vir die spesiale sorg-eenheid waar Aucamp se man was.
Die laaste twee uitsendings van die program sal Sondag om 17:00 en Maandag om 14:30 op kykNET uitgesaai word.
Vervanging van hysbak
Fourie vertel dat die tehuis op die broodlyn lewe, maar steeds probeer om aan elke inwoner se behoefte te voorsien. Die hysbak wat al vir die afgelope paar jaar probleme gee het nou totaal die gees gegee en is onherstelbaar. Inwoners wat swak is moet nou van die oprit gebruik maak om van die grondvloer na vloer een en twee te gaan.
'n Lening van R1,2 miljoen wat oor ses jaar afbetaal moet word is onlangs aangegaan. Dit sal beteken dat hulle maandeliks R36 000 sal moet terugbetaal, "ek weet nie hoe ons dit gaan doen nie," sê Fourie.
Kersfeespartytjie
Fourie vertel dat daar so baie wonderwerke gebeur - 'n vrou van Mosselbaai het onlangs 'n droom gehad het dat sy Bellinghanhof moet kontak. Lynette Joubert het kontak gemaak en uitgevind dat daar 'n behoefte na geskenke vir die inwoners is. Sy het toe vir Fourie gevra om 'n wenslysie aan elke inwoner te oorhandig sodat vyf items op die lysie neergepen kon word.
Joubert het wyd en syd op sosiale media vertel van haar projek om aan die inwoners van Bellinghanhof, Santa Shoeboxes te skenk. 'n Inwoner van Oudtshoorn het daarvan te hore gekom en self 30 bokse geskenk - al vyf items op die wenslysie is gekoop. 'n Totaal van 250 Santa Shoeboxes is deur die Mosselbaaier bymekaargemaak en sal binnekort afgelewer word - weer is al vyf die items op die wenslysie geskenk.
Michael Lindt het ingestem om gratis by die Kersete op te tree en die George-gholfklub het 'n fondsinsameling gehou wat die totale koste van die dag se ete sal dek. Kersfees is 'n baie spesiale geleentheid by Bellinghanhof, hierdie geleentheid vind op 7 Desember plaas.
Fourie vertel dat hulle jaarliks vier groot fondsinsamelings hou om die fondse van die tehuis aan te vul. Indien iemand betrokke wil raak, kan hulle Suster Fourie by 083 564 6175 kontak.
Sr. Colleen Fourie, bestuurder van ACVV Huis Bellinghanhof by die filmspan van Dankie Lottoland. Foto: Verskaf
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'