Update Video
OUDTSHOORN NUUS EN VIDEO - Vriende van Freddie en Margaret Jordaan, het hulle Donderdag 17 Augustus tydens 'n verras-singsfunksie by Headlines Restaurant gegroet.
Die Jordaans het Sondag na Sandton, Gau-teng, verhuis, waar hulle by hul een seun Pierre Jordaan, gaan woon. Beide Pierre en sy broer, Johan, is boorlinge van Oudtshoorn.
Die afskeid is deur die Oudtshoorniete Staan Saam-assosiasie, onder voorsitterskap van Hein Crocker, gereël.
Freddie vertel hy het 62 jaar gelede van die plaas Brandwacht, in die Mosselbaai-distrik, na Oudtshoorn verhuis. Hier het hy sy hoërskoolloopbaan by die ou Hoër Tegniese Skool (waar die polisie-akademie vandag is) voltooi. Hy het na skool by die spoorweg begin werk, maar na tien jaar en drie maande het hy by die weermag aangesluit en op die ouderdom van 55-jaar afgetree.
Margaret het haar hoërskoolloopbaan by Hoërskool Zwartberg, Prins Albert, voltooi en 51 jaar gelede na Oudtshoorn verhuis. Tong in die kies sê sy, "ek het kom man soek in Oudts-hoorn". Dit was dan ook slegs drie maande na sy verhuis het, wat sy op 25 April 1966 vir Freddie ontmoet het. Elf maande later, op 19 Maart 1967, is hulle in die huwelik bevestig. "Dit was Freddie se suster, Minnie, wat ons aan mekaar voorgestel het. Ek het saam met haar na hul huis gestap. Toe ons by die hekkie instap het Minnie vir Freddie geroep en gesê - Freddie kom hier, ek het vir jou 'n vrou gebring," beskryf sy hul ontmoeting.
Margaret het na hul troue opgehou werk, maar nooit opgehou om die gemeenskap te dien nie. Sy én Freddie was hul leeftyd in Oudtshoorn baie nou betrokke by die AGS Kerk. Sy het ook haar lewe hier gewy aan dierebeskerming. "Ek is baie lief vir diere. Enige dier lê my na aan die hart."
Sy was ook nou betrokke by welwillendheidswerk by die weermag.
Die Jordaans se afskeidsfunksie was 'n verrassing vir hulle. "Hein Crocker het ons genooi vir koffie en versnaperinge by Headlines. Toe ons daar staan het ons vriende een vir een begin instap. Toe eers kom ons agter dis meer as net 'n paar eetgoed waarvoor ons genooi is.
Beide van hulle sê hulle gaan Oudtshoorn se natuurskoon en mense baie mis.
Kyk 'n video hieronder.
ARTIKEL, VIDEO & FOTO'S: CHRISTO VERMAAK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'