PRINS ALBERT NUUS - ’n Inwoner van Prins Albert wat diep spore in die landbougemeenskap van die Sentraal-Karoo getrap het, is vanoggend (Dinsdag 29 Desember) oorlede, drie maande voor sy 97ste verjaardag.
Charles Patrick (Pat) Marincowitz het die dorp se landbouskou begin en help groei en was van 1967 tot 1973 president van die Prins Albert-landbougenootskap. Daarna, tot met sy dood, was hy erepresident.
Sy vrou, Helena, wat in 2007 oorlede is, was ’n bekende navorser van en skrywer oor die kultuurlewe van die omgewing en sy argitektoniese nalatenskap. Sy was destyds ook kurator van die Fransie Pienaar-museum op die dorp.
Marincowitz was in die laaste tyd ongesteld nadat hy sy heup beseer het. Tot voor die grendeltyd in Maart het hy nog motor bestuur en gereeld in Die Windpomp, een van Prins Albert se gewilde eetplekke, gekuier.
Op 17 Maart 2019 het hy sy 95ste verjaardag in die historiese NG kerk en kerksaal Seekoegat, tussen Prins Albert en Rietbron saam met familielede en vreinde gevier. Marincowitz se plaas was in dié omgewing geleë
In 2016 het Marincowitz, met die saamstel van ’n skougedenkboek, aan die skrywer gesê: “Ek het die voorreg gehad om ons dorp van klein en onbekend tot groot, gewild en gesog te sien ontwikkel. Ek het Prins Albert sien ontwikkel van ’n dorp met drie winkels tot ’n toerismedorp. Ek het gesien hoe die Prins Albert-landbougenootskap en sy werksaamhede bydra om ons dorp ’n gerekende krag in landboukringe maak.
“Die skou het in my leeftyd uitsonderlik gegroei, van ’n tyd toe die veekrale nog op die skoolgrond was, tot ’n skouterrein wat ’n jaarlikse bymekaarkomplek is van landbouers met puik diere en produkte – vir boere wat diere en die grond ken, en vir mense wat die beste handvaardighede en bobaasgebak lewer. Prins Albert se skou het ’n byeenkoms geword waar die publiek welkom is, sodat hulle self kan sien wat boer en baaskok vermag. In Prins Albert het ek die oorgang van die ou manier van skou hou tot die nuwe manier ervaar. Dis ’n hele omwenteling. Geslagte het gekom en gegaan. Ek is oor alles dankbaar.”
Begrafnisreëlings is nog nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'