OUDTSHOORN NUUS - Een van Oudtshoorn se bekendste, maar ook mees beskeie kunstenaars, Francois Gerber (63), is Sondag aan kanker oorlede.
Alhoewel Gerber se kuns uiters gewild is, het dié kunstenaar homself min aan die publiek blootgestel. Bykans al die werk wat hy die afgelope aantal jare gelewer het, het hy aan die Robertson Kunsgalery gestuur.
Elaine Paulsen, eienaar van die galery, het hierdie week gesê Gerber se dood is nie net 'n groot verlies vir die kunswêreld nie, dit is ook die verlies aan 'n goeie vriend. Sy het die volgende boodskap gestuur:
"Dit is met groot hartseer dat ons 'n uitsonderlike kunstenaar en ware vriend groet. Die besef dat ons nie meer lekker geselsies gaan hê nie, nie meer met afwagting en opgewondenheid nuwe kuns gaan ontvang nie en nie meer daardie "faktuur" gaan oopmaak wat kom in die vorm van 'n lekker geselsbrief nie, is so onwerklik. Ons is baie dankbaar dat ons hierdie sagte reus kon ken, so nederig, en tog 'n meester op sy gebied.
"Sy kleurgebruik en komposisie was uitsonderlik, so ook sy vermoë om te skets. Ons waardering vir jou en jou kuns reflekteer in ons huis deur die groot aantal skilderye in ons persoonlike versameling - letterlik ons eie Francois Gerber-galery. Ons gaan jou baie mis Francois."
Francois Gerber was 'n oud-onderwyser en het in 1990 'n honneursgraad in kuns by die Universiteit van Stellenbosch behaal. Hy was tot 1993 'n kunsonderwyser by Despatch Hoërskool waarna hy as voltydse kunstenaar in Oudtshoorn kom woon het .
Volgens Paulse het Gerber dit moeilik gevind om oor sy eie werk te praat en hom min gesteur aan kommentare en besprekings; hy wou net skilder.
Alhoewel sy kunswerke uiters gewild is, het Gerber aan min uitstallings deelgeneem. Hy het verkies om sy skilderye aan een galery te stuur en die bemarking aan hulle oorgelaat. Begrafnisreëlings was teen Donderdag nog nie bekend nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'