Update
OUDTSHOORN NUUS - Mornay Thysse, bekende brandweerman en slangvanger van Oudtshoorn, is Dinsdag vir 'n rugbesering behandel nadat 'n vragmotor in Voortrekkerweg van agter teen sy werksvoertuig gebots het.
Volgens hom was hy na Hoërskool Oudtshoorn onderweg om 'n slang te gaan vang.
"Ek het my flikkerlig aangesit om aan te dui dat ek links gaan draai. Ek het spoed verminder en toe ry die bestuurskooltrokkie volspoed agter in my vas."
Die brandweervoertuig het byna geen skade opgedoen nie, maar die slag het Thysse se bolyf en kop na agter laat ruk.
Die Oudtshoorn-brandweer het ander personeel gestuur om die slang op die skoolterrein te vang.
Thysse se dogter, Yolandi van der Merwe, het Woensdagoggend gesê haar pa ervaar steeds baie pyn.
"Hy het 'n baie slegte aand gehad met verskriklike pyn in sy rug en nek." Thysse het aan die Oudtshoorn Courant gesê dat die dokter ekstrale van sy nek laat neem het.
"Gelukkig het die plate gewys dat niks fout is. My bloeddruk was egter vanoggend (Woensdag) baie hoog.
"Die dokter het daarvoor ook 'n pilletjie gegee wat dadelik gehelp het."
Die ongelukstoneel.
Lees 'n vorige artikel: Slangvanger in ongeluk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Karoo nuus'