OUDTSHOORN NUUS - Thys Goliath (65), die bekende blokman van De Lange Slagtery in Uniestraat, wat op 6 Februarie vanjaar na 50 jaar die tuig neergelê het, is verlede Woensdag, 11 Augustus, oorlede.
Volgens sy eggenote, Lorna, is hy aan brongitis en vog op die longe by sy huis in Sprucestraat, Bridgton, oorlede.
"Hy wou nie hos-pitaal toe gaan nie," sê sy.
Goliath, by baie net bekend as Oom Thys, het as 15-jarige by die destydse Rademeyer Slaghuis in Voortrekkerweg begin werk.
Hy was bekend en gewild by baie mense wat hom leer ken het as 'n blokman wat sy klante se voorkeure gou leer ken het en altyd die beste vir hulle probeer doen het.
Na 'n paar jaar het hy 'n werk gekry by 'n slaghuis in Hoogstraat langs die huidige Baron's Palace wat aan Massie Ungerer behoort het.
Goliath het daarna vir baie jare, en onder verskeie eienaars, by 'n slaghuis in Voortrekkerweg gewerk en die laaste sewe jaar as blokman by De Lange Slagtery. Hy het vertel hoe hy reeds vroeg alles geleer het wat in 'n slaghuis gedoen moet word soos die ontbening van vleis, die opsaag van karkasse en die maak van wors, maalvleis en ander kouevleise.
Na sy aftrede het hy nie gaan stilsit nie en hom steeds besig gehou om slaggoed vir mense by sy huis op te saag. Hy het ook nou en dan by De Lange Slaghuis gaan uithelp wanneer hulle hom nodig gehad het. Goliath word oorleef deur sy vrou, drie dogters en 'n seun, asook tien kleinkinders.
Hy word Saterdag na 'n diens om 10:00 by sy huis, te Sprucestraat 157, Bridgton, ter ruste gelê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'