OUDTSHOORN NUUS - "Hy was ‘n man wat nooit geskroom het om sy medemens in tye van nood te help nie, en sommige tye ten koste van homself."
So het Phillip Coerecius, boesemvriend van Oudtshoorn se eerste bruin balju, Reginald 'Reggy' Cupido, Saterdag in ‘n stampvol AGS Kerk Bridgton, in sy huldeblyk aan die ontslape Cupido gesê.
Reginald Cupido (69) het in 2002 as balju in Oudtshoorn begin werk en is op 18 Januarie oorlede. Hy het ‘n paar jaar gelede afgetree.
Die diens is gelei deur pastoor Leon Prinsloo van die Greenhaven AGS in Groot-Brakrivier wat die familie na aanleiding van Romeine 14:8 getroos het; "of ons lewe en of ons sterwe, ons behoort aan die Here".
Hy het in sy boodskap mense gemaan om nie baie vrae oor die dood van Cupido te vra nie.
"God was by wat daai dag plaasgevind het, en as jy nie daar was nie bly stil. ‘n Mens hoor baie liegstories by begrafnisse. God het Reggy geseën en wie is ek en jy om te kom oordeel," het Prinsloo gesê.
Eugene Petersen het in sy huldeblyk aan sy skoonpa gesê dat hy hom sal onthou vir die lekker kos wat hy kon kook en sy aanmoediging om altyd jou drome na te jaag.
Sy skoonpa was ‘n groot sportliefhebber en volgens hom sal hy sy liefde, vriendskap, sy geduld, sy glimlag altyd ‘n oor om te luister, nooit vergeet nie.
Coerecius het Cupido, wat hy Kieppie genoem het, voorts beskryf as ‘n pynlik netjiese mens en iemand wat hy weinig kwaad gesien het.
"Kieppie het die laaste tyd vir my gesê dat geld, waar jy bly, wat jy ry, waar jy werk en wat jy doen alles tydelik is en net Jesus vir ewig. Jou waarde word nie bepaal deur aardse dinge nie, maar wie jy in Jesus is."
Cupido was ‘n boorling van Bellville-Suid en het by sy ouma grootgeword.
Hy het op ‘n vroeë ouderdom by die polisie aangesluit en later lank as adjunkbalju in Bellville gewerk voordat hy Oudtshoorn toe gekom het.
Hy word oorleef deur sewe kinders, sewe kleinkinders en een agterkleinkind.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'