Tom Mac Clune (74) is een van die bejaardes wat sedert 04:30 voor die saal sit en wag het vir sy pensioen. Hy is rolstoelgebonde en het van Smartie Town af tot by die Nicholoniasaal gesukkel.
"Ons kom almal vroeg sodat ons voor in die ry kan staan om ons geld te kry. Die saal maak 07:30 oop en dan is dit omtrent so 'n uur en dan kry ons ons geld. Nou staan ons al van 04:30 af hier en nog niks het gebeur nie," vertel hy.
'n Verteenwoordiger van Sassa het ongeveer 10:00 die bykans 800 mense kom toespreek en verduidelik wat die situasie is.
Die mense was daarna genoodsaak om na die Thusong-sentrum in Bongolethu te gaan om hul uitbetalings daar te ontvang, maar met hul aankoms is daar weer aan hulle gevra om terug te beweeg na die Nicholoniasaal sodat die inwoners hul geld daar kan ontvang.
Gerugte het die rondte gedoen dat die huur vir die gebruik van die saal vir 15 maande nie betaal is nie.
Volgens Waldie Terblanche, 'n woordvoerder van Sassa, het daar 'n probleem ingesluip wat die betaling van die Nicolaniasaal aanbetref, met die gevolg dat die saal nie Dins-dagoggend beskikbaar was nie.
"Omdat ons nie die begunstigdes wou verontrief nie is toestemming onmiddellik gegee dat ons of die saal of 'n ander saal bekom en betaal vir die dag sodat die betalings kon voortgaan. Die Thusong-sentrum was 'n moontlike alternatief indien ons nie die Nicolaniasaal kon kry nie. Indien ons hierdie opsie gebruik het sou ons wel vervoer vir begunstigdes gereël het soos ons al by vorige geleenthede gedoen het," het hy in 'n verklaring gesê.
Terblanche het verder gesê die betalingsprobleem sal uit gesorteer word om te voorkom dat daar nie weer sulke probleme is nie.
" Ons is tans besig met 'n oudit van al die sale wat ons benut om te verseker dat kontrakte vir almal in plek is en dat almal se betalings geregistreer is en glad verloop."
Hy sê ook dat Sassa om verskoning vra aan die begunstigdes en hy wil ook die mense verseker dat Sassa hul bes sal doen om 'n herhaling hiervan te voorkom.

Bykans 800 inwoners waaronder talle bejaardes het Dinsdagoggend in die donker voor die Nicholoniasaal gewag vir hul AllPay gelde om uit te betaal.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'