OUDTSHOORN NUUS - 'n Bejaarde man van Neppon in Oudtshoorn, wat 'n negejarige meisie met 'n elektriese koord geslaan het, is in die Oudtshoorn-streekhof aan aanranding met die opset om ernstig te beseer skuldig bevind en 'n opgeskorte vonnis opgelê.
Die staat het beweer dat Marthinus Manuel (72) die kind oor haar rug, bors en regterhand geslaan het.
Manuel het in 'n pleitverduideliking gesê dat hy die betrokke dag geslaap het en dat sy honde hom wakker geblaf het. Hy het opgestaan en kinders by 'n gemeenskaplike waterkraan sien speel waarna hy hulle verjaag het. Hy het voorsien dat hy die kind kon raak slaan en is baie jammer oor wat hy gedoen het. Hy het erken dat hy verkeerd opgetree het.
Manuel se regsverteenwoordiger, Vaughn Shone, het die hof vir 'n opgeskorte vonnis gevra omdat die kind nie ernstige beserings opgedoen het nie en nie mediese behandeling nodig gehad het nie.
Die beskuldigde het skuldig gepleit en het berou getoon. Hy is self die pa van 'n 13-jarige kind.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, het geen beswaar gehad teen afwyking van die minimum vonnis van 10 jaar nie omdat daar wel buitengewone omstandighede bestaan en 'n opgeskorte vonnis met streng voorwaardes voorgestel. Die beskuldigde is ook nie meer jonk nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla het met vonnisoplegging gesê alhoewel Manuel skuldig gepleit het, is hy nie 'n eerste oortreder nie. Volgens haar vra die gemeenskap respek vir kinders.
"Die hof moet met vonnisse ook respek vir die hof bevorder, die belange van die gemeenskap in ag neem en vonnisse temper met genade."
Sy het toegegee dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om af te wyk van die voorgeskrewe vonnis van tien jaar.
Manuel is tot vyf jaar gevangenisstraf gevonnis wat in geheel voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'