OUDTSHOORN NUUS - Leerders van Môrester Sekondêr is vanoggend deur die skool se beheerliggaam aangesê om die skool tot Maandag te verlaat.
Die beheerliggaam is ongelukkig omdat die waarnemende skoolhoof, Frank Williams, se aansoek om oor te neem as permanente skoolhoof, deur die departement van onderwys (WKOD) afgekeur is.
Volgens 'n e-pos van die departement is Williams se aansoek oorweeg, maar is dit afgekeur weens die resultate van sy CBA (psigometriese toets).
Die pos sal nou volgens die e-pos weer geadverteer word en intussen moet die skool weer 'n waarnemende skoolhoof aanstel totdat die departement op 'n geskikte kandidaat besluit.
Volgens Jan Plaatjies, voorsitter van die skool se beheerliggaam, is die psigometriese toets nie deel van die vereistes van die pos nie en is dit aanbeveel deur 'n maatskappy wat nie deel is van die skool se strukture nie.
Plaatjies sê verder dat Williams vir die afgelope jaar en 'n half lank reeds die waarnemende skoolhoof is en dat hy tot op hede nie 'n voet verkeerd gesit het nie.
"Inteendeel, toe Williams oorneem kon mens sien dat daar ware leierskap in die skool was. Voorheen was die skool disfunksioneel. Matrikulante het ewe skielik n hoër slaagsyfers behaal en leerders het op alle vlakke hul ware potensiaal begin wys. Ook die moraal van die leerkragte was op 'n ongekende vlak."
Volgens Plaatjies is die ouers deur die leerders in kennis gestel van dié "wegbly-protesaksie". Die ouers word tans by die skool ingewag vir konsultasie. 'n Navraag is na die WKOD gestuur.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'