OUDTSHOORN NUUS - Die sukses van 'n besigheid word bepaal deur die toewyding van die eienaar en die mate waarin nuwe moontlikhede raakgesien en benut kan word.
Dit was in kort die boodskap van Irene Vermeulen, eienaar van Oudtshoorn-begrafnisdienste, twee begrafnisondernemings in onderskeidelik George en Knysna asook die George-krematorium.
Sy het gaste tydens die maandelikse netwerkaand van die Oudtshoorn-besigheidskamer wat sy by haar sakeperseel in Voortrekkerweg aangebied het, toegespreek.
Vermeulen is in September as die George-sakekamer se sakepersoon van die jaar aangewys.
"Ons moet met nuwe oë na die bedryf kyk, mense het deesdae al hoe meer keuses wanneer hulle moet besluit oor 'n begrafnis. My werk is om so veel as moontlik keuses aan hulle te bied."
Volgens Vermeulen is hierdie sienswyse op alle besighede van toepassing.
Sy sê besighede moet in voeling wees met die behoeftes van hulle kliënte en aanpas om daardie veranderende behoeftes te bevredig.
Tydens sy verwelkoming het Gideon Badenhorst, voorsitter van die besigheidskamer, verwys na die "Ek is Oudtshoorn" inisiatief van die besigheidskamer en sakemense aangemoedig om deel te wees van 'n beweging om 'n positiewe beeld van Oudtshoorn te help skep.
"Die dorp is besig om te herstel, as ons elkeen aan die proses deelneem sal ons verandering sien."
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'