Met die aankoms van die Oudtshoorn Courant op die toneel het die bakkie op sy sykant gelê en was nooddienspersoneel besig om die bestuurder en 'n passasier te behandel. Die waentjie het egter nog met sy wiele in die lug gelê met sewe vasgekeerde beeste wat verwoed gebulk en na enige opening gebeur het om uit te kom. Een van die koeie is dood na die reëling van die waentjie haar nek teen die grond vasgedruk het.
Nooddienswerkers het gespook om die beeste te bevry en die brandweer het meganiese reddingskake gebruik om die relings en hek van die sleepwa oop te knip. 'n Groot kalf het dadelik sy eer-ste sprong na vryheid gegee die oomblik toe die hek oopgebreek is.
Dr. Glen Carlisle, 'n plaaslike veearts, was deel van die span wat gehelp het om die beeste te bevry.
Volgens Simon Zungu, die eienaar van die sewe beeste is dit al die derde keer die jaar wat die munisipale skut sy beeste kom haal. Hy sê die probleem lê by die omheining van die kampe omdat die drade en heining se sparre elke keer gesteel word net nadat hy nuwes opsit. Die beeste loop dan op die bure se plase rond.
"Elke keer as hulle kom skut dan moet ek R200 'n bees betaal en die laaste rekening wat ek die week gekry het was R1 654. Ek het 26 beeste en twee van die koeie was dragtig toe die ongeluk gebeur het," vertel hy.
Volgens hom is die koei wat dood is een van die wat dragtig was. Die ander dragtige koei lewe nog, maar sy sukkel om te urineer en daar moet nog vasgestel word of die ongebore kalfie nog leef. Drie van die beeste is volgens hom in 'n slegte toestand en een se been is gebreek.
Kapt. Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, sê die voertuig het in 'n westelike rigting gery en beheer verloor voordat dit omgeslaan het. Die bestuurder en passasier is lig beseer en geen klag word ondersoek nie.
Die Oudtshoorn-munisipaliteit het nie op navrae oor die ongeluk gereageer nie. Dit blyk dat die sleepwa van 'n privaat persoon gehuur is en daar is ook aangedui dat die bakkie vanaf 'n verhuringsmaatskappy gehuur word vir gebruik deur die skut.

Sewe beeste is Maandag onder 'n waentjie vasgekeer na 'n munisipale skutvoertuig buite Oudtshoorn omgeslaan het. Foto: Liezl van Niekerk
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein-Karoo nuus'