OUDTSHOORN NUUS - 'n Verkeersbeampte van die Kannaland-munisipaliteit, Andrew Pietersen, is Woensdag 6 Desember in die Oudtshoorn-streekhof 'n R11 000 boete opgelê na hy op drie aanklagte van bedrog skuldig bevind is.
Landdros Daniel Boks het hom op klag een R6 000 beboet of 18 maande gevangenisstraf wat vir vyf jaar opgeskort is.
Op klag twee is hy R5 000 beboet of gevangenisstraf van 12 maande opgelê wat vir vyf jaar opgeskort is.
Vir klag drie is hy ook R6 000 beboet of 18 maande gevangenisstraf opgelê, wat vir vyf jaar opgeskort is.
Boks het gesê hy mag hom gedurende die tydperk van die opgeskorte vonnis nie weer aan soortgelyke misdade skuldig maak nie.
Die Oudtshoorn Courant het verlede jaar berig dat Pietersen hom glo aan korrupsie skuldig gemaak het deur geld van twee voertuigeienaars te neem en R5 000 van 'n derde voertuigeienaar wou hê, "om verkeersboetes te laat verdwyn".
Hy het glo R300 van 'n Abraham Gysman ontvang en R500 van Edwin Fortuin.
Jacques Roothman, 'n taxieienaar van Ladismith, het gedurende die verhoor getuig dat Pietersen R5 000 van hom versoek het om te verhoed dat sy seun 'n boete kry, omdat hy sonder 'n openbare bestuurspermit 'n taxi bestuur het.
Pietersen het hom ook meegedeel dat hy goed bevriend is met die staatsaanklaer om die boete te laat afskryf.
Roothman het getuig dat hy Pietersen se versoek aan sy vrou, 'n polisiebeampte, oorgedra het en hulle die beskuldigde se hoof daaroor gaan sien het.
Hulle is versoek om die aangeleentheid op skrif te plaas, maar het nooit terugvoering ontvang nie.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'