OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-munisipaliteit het tydens 'n spesiale raadsvergadering Dinsdag eenparig besluit om bates van die munisipaliteit waaronder items soos kantoorlessenaars, stoele en rekenaars wat om een of ander rede voete gekry het, af te skryf.
Die totale waarde van die afskrywings wat onbruikbare items en ook onafgehandelde finansiële huurbates waarvoor eise nog nie afgehandel is nie, insluit, beloop altesaam R1 241 169.40 het die munisipale bestuurder, Allen Paulse gesê.
Die items kon nie met die 2017/18 jaarlikse bate verifikasieproses gevind word nie
Onder die bates wat afgeskryf is, is kantoortoerusting van R177 256, werkswinkelgereedskap van R171 536, rekenaartoerusting van R198 908 en ameublement van R185 524. Volgens Paulse is baie van die bates gesteel en sal daar in die toekoms strenger opgetree moet word.
Paulse het op 'n vraag van rdl. Hendrik Ruiters, gesê die groot oefening nou is dat die munisipale bateregister op datum gebring moet word.
"Dit is onaanvaarbaar dat 'n kantoorlessenaar net verdwyn."
Volgens hom sal elke amptenaar, werknemer asook raadslede in die toekoms verantwoordelik gehou word vir items op inventarisse van sy of haar kantoor wat verdwyn.
Volgens Paulse is dit 'n werklikheid dat klein items soos penne van tyd tot tyd sal wegraak maar dit is onaanvaarbaar dat byvoorbeeld 'n kantoorlessenaar nie gevind kan word nie.
Rdl. Jongilizwe Tyatya het sy skok oor wat hy sien uitgespreek.
"R1,2 miljoen is baie geld en ons sal in die toekoms saam moet werk om die problem hok te slaan."
Die voorstel vir die afskrywing is ingedien deur rdl George Kersop, voorsitter van die finansiële portufeuljekomitee en deur rdl Johan Fourie gesekondeer.
"Ek sekondeer die voorstel met 'n swaar hart. Dit is 'n skande," het Fourie gesê.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'