CALITZDORP NUUS - Jacob 'Japie' Fourie (43) van Calitzdorp se lewenslange droom is verlede jaar bewaarheid toe hy na meer as 20 jaar se harde arbeid as tuinier uiteindelik vir hom 'n tweedehandse dubbelkajuit GWN 2008 model bakkie kon koop.
Volgens Japie het hy sy ysterperd aanvanklik vir R10 000 kontant gekoop.
"Die bakkie was verwaarloos, maar ek het die potensiaal gesien om dit stukkie vir stukkie op te bou totdat dit padwaardig is, maar dis ongelukkig ook net daar waar my probleme begin het," vertel hy.
Japie sê dat hy 'n rapsie meer as R9 000 vir 'n motorwerktuigkundige op Calitzdorp vooruitbetaal het om sy bakkie se meganiese herstelwerk te behartig.
"Elke keer as ek 'n update oor my bakkie wou hê was daar verskonings. My bakkie het amper 'n jaar by dié werktuigkundige gestaan en ek was naderhand depressief van pure frustrasie.
"My vrou, Liezle, is 'n huishulp vir Christof en Maréé Truter, en gelukkig het hulle tot my redding gekom en my gehelp om my bakkie na vele konfrontasies met die werktuigkundige, terug te kry.
"Christof en Maréé het toe my bakkie op hul eie onkostes na 'n werktuigkundige op Oudtshoorn geneem wat al die oorblywende probleme uitgesorteer het.
"Die afgelope vyf maande het ek ook uit my eie sak parte en toebehore gekoop om die bakkie deur die padwaardigheidstoets te kry.
"Vandag loop die bakkie heerlik en kan ek net my Hemelse Vader dank dat hy mense soos Christof en Maréé op my pad gestuur het."
Japie is ook intussen as voltydse tuinier by Christof en Maréé se woning aangestel. Op die oomblik is hy druk besig om sy leerlinglisensie te bekom.
"Een van die dae pak ek en my vrou ons eerste langpad met my bakkie aan," sê hy trots.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'