Update
OUDTSHOORN NUUS - Die Toyota-bakkie, wat Vrydagoggend 'n stilstaande Kia in Baron van Reedestraat van agter getref het, is dieselfde bakkie wat verlede jaar in September ook in 'n botsing betrokke was.
Die bestuurder is by daardie botsing op aanklag van dronkbestuur in hegtenis geneem nadat die bakkie in Parkweg 'n ysterhek getref en omgeslaan het. Daar was ook kinders in die bakkie tydens die botsing.
Volgens foto's wat verlede jaar in September by die ongelukstoneel geneem is, is dit dieselfde bakkie wat Vrydagoggend wéér in 'n botsing betrokke was.
Die vermeende bestuurder van die bakkie is Vrydagoggend deur 'n polisiebeampte gewaarsku dat hy vir dronkbestuur aangekla sal word indien hy na die botsing agter die stuur sou inklim. Die man het Vrydagoggend gesê hy het die bakkie bestuur wat die Kia getref het terwyl dit by 'n rooi lig gestaan het. Die slag het die Kia dwarsoor die kruising met Kerkstraat geskuif.
Omstanders wat die botsing gesien het, het gesê dat die persoon wat beweer dat hy die bakkie bestuur het, nie die bestuurder was nie en het die passasier uitgewys as die werklike bestuurder. Niemand was bereid om verklarings af te lê nie.
Een van die beamptes op die toneel het daarop gewys dat die persoon wat beweer het dat hy die bestuurder was, 'n harde hou teen die voorkop weg het en dat die windskerm aan die passasierskant gekraak is.
Sonder bewyse of verklarings oor wie bestuur het en as gevolg van die tydsverloop sedert die botsing plaasgevind het, kon 'n klag van dronkbestuur skynbaar nie geopen word nie.
Die insittendes van die bakkie het dit in 'n parkeerplek gelaat waar dit laat Vrydagmiddag steeds gestaan het.
Die bestuurder van die Kia is nie beseer nie en het bevestig dat sy reeds 'n tydjie by die rooi verkeerslig gestaan het toe die Toyota-bakkie haar van agter getref het.
Die Kia wat van agter getref is. Foto's: Hannes Visser
Dieselfde bakkie wat Vrydag in 'n botsing betrokke was, op die toneel van 'n vorige botsing verlede jaar September in Parkweg.
Vorige artikel: Wie het bestuur?
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'