OUDTSHOORN NUUS - Die ATKV Oudtshoorn-tak het onlangs die Vrouegevangenis as deel van Jeugmaand besoek.
Suzette Basson, voorsitter van die Oudtshoorn-tak, is deur Davina Afrika, Christelle Botha, Desireè McCallum, Jacolene Abdolf en Dogter van Lewe in Oorvloed Bediening vergesel.
Basson sê die doel van hulle besoek was om 'n boodskap van hoop en bemoedig te gee.
"Ek het vir hulle vertel die lewe bestaan uit keuses, besluite en kanse. Kies wat jy in 'n situasie wil doen, besluit op die beste keuse, want jy kry net een kans."
Volgens haar het Jacolene Abdolf saam met hulle begin sing en hulle het hulself beskikbaar gestel vir enige een wat net wou hart oopmaak en gebed gevra het.
"Ons het vir hulle 'n geskenkpakkie gegee met skryfbehoeftes, iets soet en sneesdoekies. Ek probeer hard om handskoene bymekaar te maak, want ons het nie genoeg gehad om saam te vat of deel van die pakkie te maak nie. Ons het hulle aangemoedig om stil te raak voor ons Skepper, hart oop te maak op papier en hulle seer daarin te skryf. Dalk 'n brief om vergifnis. Om jou gedagtes op papier te sit help soms om seer te verwerk. Elkeen se omstandighede en hoekom hulle daar is verskil, maar in plaas van te oordeel het hulle steeds ondersteuning nodig."
Sy sê die Oudtshoorn-gemeenskap het baie ATKV-lede wat dalk nie weet van al hulle projekte nie. Hulle het ook op Moedersdag 'n tee gedoen by Millennium Park-aftreeoord en op Werkersdag het hulle APD Oudtshoorn besoek en hulle bederf met 'n kolwyntjie, koffie en 'n kaartjie.
"Juliemaand wil ons probeer om 'n kombersie in te samel vir Oudtshoorn Dogs in Need, Mandeladag gaan ons kospakkies voorsien aan vyf permanente karwagte en op Vroudedag gaan ons weer die gevangenis besoek. Ons is tans besig met die ontwerp van 'n Dagstukkieboekie wat ons by die gevangenis wil los wat daar kan roteer en gebruik word. ATKV gaan ons behulpsaam wees met die ontwerp," het Basson gesê.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’