Gallery
OUDTSHOORN NUUS - Ongeveer 20 skrywers en aspirantskrywers, wie se ouderdomme tussen 18 en 65 wissel, het die afgelope naweek geleentheid gekry om hulle skryftalent op verhoogtekste te fokus.
Die groep skrywers het deelgeneem aan die KKNK se Oudtshoorn-teksmark wat by die Toekomsrus-gemeenskapsaal aangebied is.
Onder die kundige leiding van Neil Coppen, bekroonde dramaturg en stigter van Empatheatre, het die skrywers twee uiters leersame dae deurgebring. Empatheatre doen navorsing oor sosiale kwessies en spreek dit dan deur middel van drama, dans en musiek aan.
Fotogalery: KKNK Oudtshoorn-teksmark by die Toekomsrus-gemeenskapsaal
Volgens Coppen werk hy soms tot vyf jaar aan een enkele produksie omdat navorsing uiters noodsaaklik is. Die bekende aktrise, Ilse Oppelt, het die sessie Saterdagoggend as mede-aanbieder bygewoon, maar moes ongelukkig dringend huis toe gaan as gevolg van 'n krisis by haar eiendom. Die kursusgangers het tydens die voldagsessies Saterdag en Sondag die fyner kunsies en die moets en moenies van verhoogtekste onder die knie probeer kry en temas vir moontlike verhoogtekse aan mekaar voorgelê en bespreek. Hulle kan dit wat hulle geleer het nou toepas in voorleggings aan die KKNK-teksmark, Oudtshoorn, wat teen 5 Mei ingedien moet word.
Die KKNK se Teksmark-projek, wat ondersteun word deur die Nasionale Afrikaanse Teater-inisiatief (NATi) en die Baxter-teatersentrum in Kaapstad, is al 'n instelling op die jaarlikse kunstekalender. Dramaturge, akteurs, feesdirekteurs en ander spelers in die bedryf kom jaarliks in die Moederstad byeen om nuwe idees vir toneelstukke te verken en te sien hoe dit ontwikkel word tot volledige produksies. Dié baanbreker-projek van die KKNK is in 2018 vereer met 'n spesiale Fleur du Cap-prys vir vernuwing in die teater. Vanjaar is daar egter besluit om ook 'n Oudtshoorn-teksmark aan te bied.
Die eerste fase van Teksmark-Oudtshoorn was die afgelope naweek se leersame werksessies. Die tweede fase is die geleentheid vir enige dramaturg – gevestig of ontluikend – om 'n voorstel in te dien wat vir verdere ontwikkeling tot 'n volledige produksie oorweeg kan word.
'n Paneel kundiges sal die voorstelle van die skrywers, wie se idees en skryfvaardighede die meeste belofte toon, evalueer. Die gekose voorstelle sal op 29 Mei as teksvoorlesings van hoogstens 10 minute, by Teksmark Oudtshoorn aangebied word. Dié geleentheid sal deur die organiseerders van die KKNK gebruik word om talent te identifiseer vir toekomstige deelname aan die jaarlikse fees.
Voorstelle moet voor Woensdag 5 Mei om 16:00 per e-pos aan teksmark@kunste.org.za gestuur word.
Tekste en voorstelle in al Suid-Afrika se amptelike tale sal oorweeg word en veeltalige produksies word verwelkom.
Slegs tekste wat nog nooit tevore professioneel opgevoer is nie, sal oorweeg word.
Die volgende inligting moet deel wees van die voorstel:
- Titel van die teks
- Skrywer se naam en ouderdom
- Skrywer se kontakbesonderhede (selfoonnommer, e-posadres en straatadres)
- 'n Opsomming van die teksidee en -temas, kort beskrywing van die karakters en minstens vyf bladsye met dialoog. Volledige tekste is welkom, maar dis nie 'n vereiste nie.
Ontvangs van voorstelle sal per e-pos erken word. As jy nie binne drie dae so 'n e-pos ontvang het nie, bel die KKNK-kantoor by 044 203 8600, of stuur 'n e-pos aan teksmark@kunste.org.za om seker te maak jou inskrywing is ontvang.
"Nou hoe gaan ek hierdie karakter laat praat?"
'n Deelnemer maak gereed om 'n impromptu storie aan die groep te vertel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'