LADISMITH NUUS - Na bykans 30 jaar diens by die enigste apteek in die dorp, het die eindfluitjie op Woensdag 30 November, vir Annette Theron geblaas.
Volgens Theron is haar gesondheid die enigste rede waarom sy die Ladismith-apteek groet.
Theron het by Hoërskool Calitzdorp gematrikuleer en het in Mei 1993 by dié apteek, toe nog Blom's Apteek, by Hennie en Gertie Blom begin werk.
Sy vertel dat Gerrie en Monica Haasbroek die apteek in 1998 oorgeneem het en dat die einste oom Gerrie haar ingeskryf het vir 'n aptekersassistent kursus wat sy in 2003 voltooi het. In 2019 het Victor Botes en Jan-Dirk Brak die apteek se nuwe eienaars geword.
"Annette het 'n probleem met haar bene, maar sy sou nooit kla nie, selfs al sou jy haar daaroor pols. Sy was die ruggraat van hierdie apteek en het die meeste pasiënte so goed geken dat sy geweet het watter medikasie die persoon kom haal," sê Botes. Brak, op sy beurt, voel dat dit vir die hele dorp 'n aanpassing gaan wees om nie vir Annette in die apteek te gewaar nie. Haar kollegas agter die kasregisters, Hayleen Hartman en Adele Bell, se oë skiet vol trane wanneer hulle oor tannie Annette praat.
"Sy het ons alles geleer wat ons vandag weet. Tannie Annette het nooit haar stem vir ons verhef nie. Sy het altyd haar boodskap op 'n kalm, rustige manier oorgedra."
Annette Theron se plek in die apteek gaan leeg wees, maar soos sy self sê: "Dis tyd dat my man, Danie, ook bederf word."
'Ons bring jou die nuutste Ladismith, Karoo nuus'