Update
PRINS ALBERT NUUS - 'n Man van Prins Albert wat tien jaar gevangenisstraf vir verkragting moes uitdien het verlede maand as 'n vry man uit die tronk gestap nadat hy appèl aangeteken het.
Die Oudtshoorn Courant het op 5 April vanjaar berig dat Richard Franzen (36), van Prins Albert tot tien jaar vir verkragting gevonnis is nadat hy in die Oudtshoorn streekhof aan verkragting skuldig bevind is.
Die verkragting het glo in April 2015 plaasgevind toe 'n 19 jarige klaagster beweer het sy is deur Franzen by sy huis verkrag. Franzen het voor landdros Daniel Boks verskyn en aansoek om verlof tot appèl gedoen. Boks het egter die aansoek van die hand gewys en gesê hy is van mening dat geen ander hof tot 'n ander beslissing sal kom nie.
Tydens sy skuldigbevinding het die landdros daarop gewys dat Franzen reeds twee vorige veroordelings van aanranding en aanranding om ernstig te beseer, gehad het.
Franzen se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het hierdie week gesê hulle het petisie om verlof tot appèl tot die hoofregter gerig nadat Franzen se aansoek voor Boks onsuksesvol was.
Die petisie was suksesvol. "Daarna is saak vir aanhoring van appèl geplaas, en is die skuldigbevinding omgekeer, en Richard is 'n vry man." Het Van der Bergh gesê. Hy het Woensdag gesê hy wag nog op die bevel van die hooggeregshof, maar kon bevestig dat Franzen op 19 September vrygespreek is en op 20 September vrygelaat is.
Franzen was die voormalige kantoor-bestuurder van die munisipale bestuurder in Prins Albert, maar het in 2018 uit die pos bedank. Hy het met die beriggewing van 5 April gesê hy het bedank omdat die hofsaak 'n impak op sy werk gehad het.
Lees vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Prins Albert, Klein Karoo nuus'