OUDTSHOORN NUUS - 'n Munisipale amptenaar van die Oudtshoorn-munisipaliteit, wat aan verkragting van 'n 19-jarige studentkonstabel van Springbok, wat in Oudtshoorn vir polisieopleiding was, skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof tien jaar gevangenisstraf opgelê nadat die hof nie buitengewone omstandighede kon vind om van die minimum vonnis af te wyk nie.
Hamilton Claassen (32) van Dysselsdorp is daaraan skuldig bevind dat hy die vrou die aand van 3 Augustus 2018 in die huis van sy vriend verkrag het nadat hulle drie studente, wat erg besope was, slaapplek vir die nag aangebied het, omdat die hekke van die polisiekollege gesluit was.
Die drie vroue was volgens getuienis voor die hof so dronk dat hulle nie op hul voete kon staan nie.
Claassen se regsverteenwoordiger, Christo van der Bergh, het die hof gevra om af te wyk van die minimum vonnis omdat drank 'n groot rol gespeel het.
Hy het 'n goeie werk by die Oudtshoorn-munisipaliteit met 'n maandelikse salaris van R23 000. Hy sorg ook vir sy ouma en dek al sy 13-jarige dogter se skool- en vervoerkoste.
Volgens hom is Claassen 'n aanwins vir sy familie en Oudtshoorn en vra die hof om hom as 'n eerste oortreder te beskou.
Die staatsaanklaer, adv. Michelle Weyers, het die hof egter vir die minimum vonnis gevra omdat geen wesenlike of dwingende omstandighede bestaan om daarvan af te wyk nie. Volgens haar het Claassen al op vroeë ouderdom begin misdaad pleeg.
"Die klaer kry steeds nagmerries en kan nie intiem verkeer nie. Die beskuldigde het misbruik gemaak van die situasie omdat sy onder die invloed van alkohol was."
Streeklanddros Daniel Boks, het met vonnisoplegging gesê Claassen is deur die klaer geïdentifiseer toe sy wakker skrik met hom bo-op haar. Sy het getuig dat sy nie weet hoe sy in die kamer beland het nie.
Sy het egter opgestaan en na die eienaar van die huis gesoek wat sy toe buite die huis aangetref het waar hy staan en rook het.
"Die hof moet 'n boodskap uitstuur na die gemeenskap dat die soort misdryf nie geduld word nie en die beskuldigde sowel as voornemende verkragters afgeskrik word."
Claassen is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'