OUDTSHOORN NUUS - Die bekende meester Ampie (Adam) Wicomb van Sesde Laan, Colridge View, oudste lid van die Wicomb-familie, het op 20 Desember verlede jaar sy 99ste verjaarsdag saam met sy kinders, klein- en agterkleinkinders asook familie en vriende gevier.
Dié merkwaardige oudskoolhoof het in 1981 na 'n loopbaan van 37 jaar in die onderwys uitgetree en geniet steeds goeie gesondheid.
Hy is 'n boorling van Matjiesrivier en was een van die eerste leerlinge van die Hoërskool Môrester op Oudtshoorn. Hy het sy onderwysloopbaan op Ladismith begin en was vanaf 1967 tot sy uittrede in 1981 hoof van die Vlakteplaas UCC Primêr.
Vier van sy eerste leerlinge Florence de Laan (87), Appollis Gertzen (81), Sarah Kock (80) en Nellie Leonards (74), wat destyds op Hottomskloof buite Oudtshoorn by hom in die skool was, het ook die partytjie bygewoon.
Gertzen het vertel hoe hulle self die kweperlatte moes gaan sny waarmee hulle by meester Ampie pak gekry het. Hy het hom bedank vir die opvoeding wat hy hulle gegee en geleer het om andere te respekteer.
Meester Ampie het vir baie jare op kerkrade van die Congregational Kerk gedien en is tans ere-diaken van die Weyers Memorial United Congregational Church.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'