OUDTSHOORN NUUS - Die gemeente van die Evangelies Lutherse Kerk , Amaliënstein, vier hierdie jaar saam met die wêreldwye Lutherse familie 500 jaar van hervorming toe Martin Luther op 31 Oktober 1517 sy 95 stellinge aan die kerkdeur te Wittenburg, Duitsland vasgespyker het, waarin hy verklaar dat net deur die geloof en genade van Jesus Christus die mensdom gered kan word.
Die gemeente het ook, volgens pastoor Ruth Adams, dit goed geag om as deel van die feesvieringe, en uit dankbaarheid die historiese kerkgebou op Amaliënstein, wat dateer uit 1853, te restoureer.
Die feesteks is gebaseer op II Kronieke 6:20 wat lui: " Hou hierdie tempel dag en nag onder u sorg, die plek waarvan U gesê het dat U u Naam daar wil vestig."
"Die kerkgebou is in 1997 as 'n nasionale ge-denkwaardigheid verklaar en is hierdie monument 'n merkwaardige baken van en in ons omgewing," sê Adams.
Die feesvieringe het Woensdag 13 September afgeskop met 'n openingsdiens in die kerk en eindig Sondag 17 September, met 'n dankseggingsdiens om 10:00.
Die feesvieringe op Amaliënstein sal oor 'n jaar, van 17 September 2017 tot 17 September 2018, strek, ter viering van die historiese kerkgebou se bestaan en inwyding as die Huis van God.
Navrae kan gerig word aan pastoor Adams by 082 569 1450 of die kerkkantoor by 028 561 1003.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Tuinroete nuus'