OUDTSHOORN NUUS - Die gemeente van die Amaliënstein Lutherse Kerk naby Zoar, vier hierdie naweek die kerk se 165 ste bestaansjaar.
Volgens pastoor Ruth Adams, begin die feesviering reeds vanaand met die aankoms van gaste.
Saterdag se verrigtinge begin om 08:00 met 'n staptog vanaf die kerk met trompoppies, gelei deur die jeugbrigade-orkes van die Oudtshoorn Lutherse Kerk tot by die Zoar-sportstadion waar die amptelike opening van die fees en basaar om 10:00 begin.
Die dag word afgesluit met 'n musiekfees by Ladismith Sekondêr met kore van die Eurica, Ravensmead en Grassy Park gekombineerde koor, Kraaifontein, Bellville-Suid en die Moria-streekkoor, blaasorkeste van Oudtshoorn en Amaliënstein asook die Oudtshoorn-jeugbrigade se orkes.
Sondag se verrigtinge begin met 'n optog vanaf die Maxi's-saal in Zoar tot by die kerk waar 'n kranslegging- en voorafseremonie om 09:00 plaasvind met die Jubilate feesdiens met kore en orkeste wat om 09:30 begin. Middagete word na die diens in die RP Botha-skoolsaal aangebied.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'