OUDTSHOORN NUUS - "Stil broers. Daar gaan 'n man verby. Hy groet en dis vir laas. Daar's net een soos hy. Bekyk hom goed."
So is Oudtshoorn se alombekende skrynwerker, Harold 'Boetie' Paulsen (81), Saterdag in 'n huldeblyk deur Andy Lourens na aanleiding van Jan FE Cilliers se gedig beskryf tydens die begrafnis van Paulsen wat op 28 Februarie na 'n kort siekbed oorlede is.
Lourens het ook verwys na Markus 6:3 wat lui: "Is hy nie die timmerman nie?"
Dit is twee entiteite wat mekaar omarm. My oom was 'n begaafde skrynwerker met 'n intieme verhouding met God," het Lourens gesê.
"En al is sy stem stil, praat sy handewerk nog oral in Oudtshoorn en selfs op ander dorpe. Sy liefde vir die kerk het hom verskeie werkstukke sonder vergoeding laat maak soos die preekstoel en nagmaaltafel van sy kerk, Weyers Memorial, asook nagmaaltafels vir die Toekomsrus en Petrusville United Congregational Church."
Omdat hy so lief was vir musiek en sang het hy vroeg by die kerk se mannekoor aangesluit. 'n Koor wat verskeie langspeelplate die lig laat sien het.
Volgens 'n familievriend, Christy le Roux, was Paulsen "'n boetie vir almal". "Hy was man met 'n groot hart met plek vir almal en iemand wat vir niemand nee kon sê nie."
Een van sy kleinkinders, Kaede Paulsen (22), het haar oupa as die beste oupa beskryf. "Oupa was my rots en my staatmaker. Ek kon enige tyd op sy nommer druk en hy sou alles waarmee hy besig was, net so los."
Japie Coetzee, wat saam met Paulsen in Randstraat opgegroei het, het in sy huldeblyk tydens Donderdagaand se troosdiens vertel van hul grootwordjare in Randstraat met sy skakelhuise, die gange tussen die huise, die gemeenskaplike krane en toilette en speletjies soos 'drieblik' wat hulle in die straat gespeel het.
Dan was daar Kappies se winkel, die Blou Deure op die hoek en die Juke Box in die kafee om die draai.
Volgens hom het Paulsen met oop hande deur die lewe gegaan, iemand wat net altyd wou gee en almal het na hom opgekyk.
"Ons almal in Randstraat het by die Anderson Laerskool in Jonesstraat skoolgegaan en Sondae ook daar Sondagskool bygewoon. En om Sondagskool toe te gaan was nie onderhandelbaar nie en ons moes Maandae in die skool die Psalm opsê wat ons Sondag in die Sondagskool geleer is. En wie sal ooit die jaarlikse Sondagskooldag in die destydse Independente Kerk in Koninginstraat (vandag Baron van Reedestraat) vergeet waartydens die Sondagskoolkore van Anderson, Noordeinde en Koninginstraat teen mekaar gekompeteer het."
Hy onthou ook hoedat hulle by die Boy's Scouts aangesluit en Paulsen een van die seniors was.
Volgens Coetzee was Paulsen seker een van die knapste skrynwerkers wat Oudtshoorn ooit opgelewer en hom met heimwee laat terugdink aan sy pa wat in dieselfde beroep was.
"Ons groet vanaand dié Randstraat-kind. 'n Skerp en goeie ambagsman wat aan die einde van sy reis gekom en soos 'n bekende sangstuk eindig: Well Done.
Paulsen word oorleef deur sy vrou, Mary, twee seuns, Anton en Selwin, twee dogters Felicity en Lelani, vyf kleinkinders en een agterkleinkind.
Vorige artikel: Bekende skrynwerker oorlede na siekbed
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'