CALITZDORP NUUS - Calitzdorp het drie groot bates, naamlik wyn, 'n besondere koskultuur en gasvryheid, en elkeen hiervan kom hierdie naweek tot sy reg tydens die Winterfees.
Die Winterfees is een van die hoogtepunte op die dorp se kalender. Die fees, wat die hele gemeenskap betrek, spog met verskeie fasette en die hoof-feesaktiwiteite vind by die Calitzdorp-stasie plaas.
Die Winterfees begin Vrydagaand, 15 Junie om 18:00 met 'n langtafeldinee in die ou goedereloods by die Calitzdorp-stasie. Kaartjies kos R250 per persoon en is beskikbaar op die Winterfees-webtuiste.
De Krans, Calitzdorp Kelders, Boplaas, Du'SwaRoo, Peter Bayly Winery en The Queen-hotel bied Saterdag 16 Junie 'n Mystery Dinner in die vorm van 'n Safari-ete by vyf bestemmings aan. Die begin en einde van die vyf bestemmings is 'n geheim. Die safari begin om 17:00 en kos R350 per persoon, wat kos en wyn by elke venue insluit. Daar is slegs 40 kaartjies beskikbaar. Kontak 044 213 3301 of admin@calitzdorpwine.co.za vir 'n bespreking. Daar is ook verskeie aktiwiteite en musiek by elke kelder gedurende die Winterfees-naweek.
Calitzdorp Kelders bied Sondag 17 Junie om 11:30 'n langtafel-laatontbyt (brunch) teen R175 per persoon aan. Kontak Elsabe by 044 213 3311 of ngkerkcalitzdorp@telkomsa.net vir besprekings.
Die Winterfees omhels die dorp se diversiteit en word tot voordeel van die gemeenskap aangebied. "Die geld wat ons insamel gaan na die dorpskas en word gebruik waar en wanneer die gemeenskap dit nodig het," sê Zelma Kriek, een van die organiseerders.
'n Optog van vlotte wat met die hulp van 'n plaaslike stelbouer Marcia Vermaak, deur skoolkinders gebou is, begin Saterdag 10:00 in die dorp en kom 11:00 by die stasie aan waar 'n wintermark, kos, drinkgoed en handwerk, boeke, plante en vars produkte verkoop word. Rieldanse, draadkarre en ander tradisionele pret het ook 'n plek.
Een van die kleurvolle stalletjies tydens verlede jaar se winterfees. Foto's: Tisha Steyn
Boeke om van te kies en keur.
Uitdunne vir die Borrel-talentkompetisie word Saterdag vanaf 11:00 gehou. Die wenners word Sondag 12:00 aangewys.
Meer inligting is beskikbaar op http://www.calitzdorpwinterfestival.co.za/ of kontak Zelma Kriek by 082 576 5855 of Erina Meiring vir besprekings by 044 213 3775.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'