WES-KAAP NUUS - Absoluut geen korrupsie of omkopery sal geduld word nie. Wees verseker, jy sál in hegtenis geneem word as jy een van ons verkeersbeamptes probeer omkoop. Só sê die Wes-Kaapse provinsiale verkeershoof, Kenny Africa.
Africa se reaksie spruit uit 'n voorval op Maandag 4 November toe 'n busbestuurder (62) een van George se provinsiale verkeersbeamptes na bewering probeer omkoop het.
Die bus, met sowat 22 passasiers, is op die N2 tussen Wilderness en George afgetrek. Na verskeie foute op die bus gevind is en die verkeersbeampte die bus wou skut, het die busbestuurder die beampte blykbaar met R1 000 probeer omkoop.
"Die beampte het die busbestuurder net daar in hegtenis geneem en na die George-polisiestasie geneem," sê Africa.
Volgens George-polisie se kommunikasiebeampte, kapt. Nolonwabo Tshengu, sou die busbestuurder gister, Woensdag 6 November, in die George-landdroshof verskyn het.
Teen druktyd was daar nog geen besonderhede beskikbaar rondom sy hofverskyning nie.
Provinsiale verkeershoof, Kenny Africa.
'Ons bring jou die nuutste George, Tuinroete nuus'