Update
OUDTSHOORN NUUS - Haroldene Korkee (42), 'n ma van drie kinders en ouma van een kleinkind, wat aan die moord op haar pasgebore babaseuntjie skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof vir agt jaar tronk toe gestuur.
Korkee het op 15 Oktober 2019 in 'n toilet geboorte aan die seuntjie geskenk en geweier om van die toilet op te staan toe vroue haar wou help.
Korkee het in April 1999 ook probeer om haar oudste kind te vermoor deur haar na haar geboorte in 'n gangetjie in Adonisweg met sand toe te gooi. Volgens die ondersoekbeampte, ao. Etienne Kuhn, is sy in die vroeë oggendure gesien stap en het sy met bloed wat langs haar bene afloop terugkeer.
Sy is vir dié misdryf ingevolge Art 276 (1) (i) tot vyf jaar gevonnis en twee jaar korrektiewe toesig.
Haar regshulpprokureur, Wenzel Botha, het die hof versoek om nie die misdryf waaraan Korkee hierdie keer skuldig bevind is oor te beklemtoon nie omdat dit nie 'n geval is waar iemand met 'n mes gesteek of doodgeskiet is nie.
Hy het die hof gevra om te kyk na die verhouding tussen die beskuldigde en haar oudste dogter wat baie goed is.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, het die hof vir 'n vonnis van ten minste 15 jaar gevra omdat Korkee aan 'n baie ernstige misdryf skuldig bevind is. Sy het 'n lewe geskenk en dit ook geneem.
"Die seuntjie was nie so gelukkig soos haar eerste kind nie en elke mens het die reg om te lewe en daarom kan dit deur niemand, nie eers die staat, geneem word nie en die doodstraf afgeskaf is," het Goulding gesê.
"Dit is dieselfde beskuldigde wat haar eerste kind wou laat verdwyn. 'n Mens sou verwag dat sy 'n les sou leer van haar fout. Daar is ander wetlike maniere om 'n swangerskap te beëindig."
Streeklanddros Ntsoki Moni het met vonnisoplegging gesê Korkee is aan 'n ernstige misdryf skuldig bevind en toon geen berou nie.
Volgens die landdros het die vonnis wat Korkee vir poging tot moord opgelê is, niks aan haar gedoen nie en het sy nie 'n les geleer het nie.
Oor 'n pleidooi dat sy by haar kinders wil wees het die hof bevind dat hoewel sy 'n ma is, sy lank in Kaapstad gewerk en 'n afwesige ma was. Haar jongste kind is twee jaar agter met haar skoolwerk terwyl sy buite die tronk was en buitendien binnekort 18 jaar oud sal wees en gelukkig is by haar ouma.
Die hof het die trauma wat die beskuldigde moes deurmaak vir vonnis in ag geneem maar bevind dat 'n opgeskorte vonnis nie 'n gepaste vonnis sal wees nie. Haar vorige vonnis het niks aan haar gedoen nie. Sy het nie daarvan geleer of gerehabiliteer nie.
Sy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
Vorige artikels:
- Babamoordenaar Donderdag gevonnis
- Regsman onttrek in saak
- Vrou in hof na baba glo versmoor is
- Vrou in hof vir baba se dood
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'