DYSSELSDORP NUUS - Die vonnisoplegging van 'n ma van drie kinders van Dysselsdorp, wat van die moord op haar pasgebore babaseuntjie skuldig bevind is, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof na die aanhoor van versagtende en verswarende omstandighede tot komende Donderdag uitgestel.
Haroldene Korkee (42) het op 15 Oktober 2019 geboorte aan die seuntjie geskenk en geweier om van die toiletpot af te klim toe vroue haar wou help.
Strafverswaring
Die hof het Vrydag ter strafverswaring gehoor hoe Korkee in April 1999 probeer het om haar oudste kind te vermoor deur haar na geboorte in 'n gangetjie in Adonisweg, Dysselsdorp, met sand toe te gooi.
Volgens die ondersoekbeampte, is sy in die vroeë oggendure gesien toe sy na die gangetjie gestap het en later teruggekeer het met bloed wat langs haar bene afgeloop het.
Korkee se regsverteenwoordiger, Wenzel Botha, het beswaar aangeteken teen die getuienis van die ondersoekbeampte, omdat dit nie relevant tot die huidige saak is nie, maar sy beswaar is deur die hof van die hand gewys omdat hy nie met die aanvang van die getuienis beswaar aangeteken het nie. Korkee is vir die misdryf 'n opgeskorte vonnis van vyf jaar opgelê.
Die staatsaanklaer, Hyron Goulding, vra die hof vir 'n vonnis van ten minste 15 jaar. Volgens hom is Korkee aan 'n ernstige misdryf skuldig bevind. Sy het lewe geskenk en dit ook geneem.
"Die seuntjie was nie so gelukkig soos haar eerste kind nie. Elke persoon het die reg om lewe."
Die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni.
Vorige artikels:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'