DYSSELSDORP NUUS - 'n 20-jarige, wat aan die verkragting van 'n vrou skuldig bevind is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof agt jaar tronkstraf opgelê.
Ronaldo Campher wat aanvanklik sy naam as Ruduwaan Saptouw opgegee het, het skuldig gepleit op die aanklag dat hy die 31-jarige vrou verkrag het, nadat hy saam met die vrou en haar kêrel by 'n partytjie was en saam gedrink het.
Die staatsaanklaer, Elaine Plaatjies, het die hof vir direkte gevangenisstraf gevra omdat dit die enigste gepaste vonnis is. Sy het, net soos Campher se regsverteenwoordiger, Brian Carelse, toegegee dat daar wel wesenlike en dwingende omstandighede bestaan om van die minimum voorgeskrewe vonnis van tien jaar af te wyk.
Streeklanddros Daniel Boks het met vonnisoplegging gesê dit is duidelik dat, volgens die statistieke vir verkragting, die gruwelike misdaad 'n kanker in die samelewing geword het en die gemeenskap swaar vonnisse vir die oortreders verwag.
"Die hof moet 'n duidelike boodskap uitstuur vir voornemende oortreders dat hulle swaar gestraf sal word en ook voorkom dat die gemeenskap die reg in eie hande neem."
Die vrou het in 'n impakverslag geskryf dat sy nie kon dink 'n jong man soos Campher sou haar verkrag nie. Sy voel woedend en kwaad omdat Campher 'n kind is teenoor haar.
Sy slaap deesdae sleg en het haar nou ook tot tik gewend om te vergeet wat met haar gebeur het. Sy voel bevrees en onveilig.
Volgens haar het sy aanvanklik gedink dat dit haar kêrel was wat met haar geslagsgemeenskap gehad het, maar toe met skok uitgevind dat dit nie hy was nie.
Die hof het vir vonnisoplegging Campher se tydperk in aanhouding, die feit dat hy nog jonk is, skuldig gepleit en berou getoon het, en ook nie die hof se tyd gemors het nie, in ag geneem vir 'n vonnis van agt jaar. Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'