DE RUST NUUS - 'n Aanrander van De Rust wat volgens hom "nog nooit my hande gelig het vir die ma van my kind nie", is in die Oudtshoorn-streekhof aan poging tot moord skuldig bevind nadat hy die vrou sodanig aangerand het dat sy verskeie operasies moes ondergaan.
Heinrich Swartbooi (27) het vir Vichonna Hendricks die aand van 20 Mei 2017 in Randstraat, De Rust, voorgekeer, geskop en getrap en twee keer met 'n mes gesteek nadat hy haar vroeër die aand in 'n taverne saam met ander mansvriende sien kuier het.
Die staatsaanklaer, Corné Pretorius, het die hof versoek om Swartbooi vir lank tronk toe te stuur omdat die gemeenskap "siek en sat" is vir dié misdryf wat algemeen voorkom en hy die opset gehad het om dood te maak.
Swartbooi was verder onder gemeenskaps-korrektiewetoesig toe hy die misdryf gepleeg het en toon nie enige berou nie.
Alhoewel Hendricks na die aanranding meer as een operasie ondergaan het, het Swartbooi haar nie in die hospitaal gaan besoek nie omdat hy glo nie weet waar die hospitaal in George geleë is nie.
Swartbooi se regshulp-prokureur, Brian Carelse, het vir sy vryspraak gevra omdat staatsgetuies mekaar weerspreek het en die staat nie sy saak bo redelike twyfel bewys het nie. Streeklanddros JC Nortje het egter bevind dat dit nie die geval is nie en Swartbooi soos aangekla skuldig bevind.
"Dit is 'n baie ernstige misdaad teen 'n weerlose vrou en net genade dat sy volkome herstel het," het die landdros gesê.
Hy het ook die hoop uitgespreek dat dit die laaste keer is dat hy Swartbooi in die hof sal sien. Sy optrede is in enige gemeenskap onaanvaarbaar.
Swartbooi is tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan drie jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit of 'n vuurwapenlisensie te bekom.
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'