Update
OUDTSHOORN NUUS - Agt plaaslike kontrakteurs is Dinsdag op 'n klag van intimidasie in hegtenis geneem na hulle Zebra-kontrakteurs verhoed het om 'n deel van Rademeyerstraat en Parkweg te teer.
Llewellyn Erasmus, Pharoa Erasmus, Henesty Philander, Denzel Oosthuizen, Linda Jacobs, Sophia Jansen, Elizabeth Phalo (Spokesie) en Harriet May is Dinsdag laatmiddag weer vrygelaat en verskyn vandag in die Oudtshoorn-landdroshof.
Dieselfde groep plaaslike kontrakteurs het ook verlede week Zebra, 'n kontrakteursfirma van Kaapstad, verhoed om 'n deel van Parkweg te teer.
Phalo het Dinsdag aan die Oudtshoorn Courant gesê dat hulle verlede week met munisipale amptenare vergader het.
"Daar is aan ons gesê dat ons die werk kan doen en dan sal hulle ons R1 250 per kontrakteur betaal. Ons moet dan ons eie mense aanstel en hulle met daardie geld betaal. Later is die bedrag na ongeveer R3 000 verander, maar niks het ooit daarvan gekom nie."
Phalo sê hulle het niks teen Zebra of hul werkers nie.
"Ons verstaan net nie hoekom die werk uit Oudtshoorn geneem moet word nie. Amptenare en raadslede sê gereeld dat werkloosheid in die dorp in probleem is en hulle wil graag ons mense bemagtig, maar dan bring hulle groot kontrakteurs uit ander dorpe om die werk te kom doen. Hulle kan mos die mense aanstel om die masjiene te dryf en ons mense kans gee om die ander werk te doen. Ons het nie Kaapenaars nodig om gate te kap en teer in te gooi nie."
Angeline le Kay, ook 'n plaaslike kontrakteur en woordvoerder van die groep kontrakteurs, sê hulle het tydens die vergadering die kontrak tussen die Oudtshoorn-munisipaliteit en Zebra aangevra.
"Hulle moes die kontrak van George laat kom. Daar is ook veronderstel om 'n klousule te wees wat sê dat 'n derde van die geld van groot kontrakteurs plaaslik bestee moet word. Met ander woorde hulle moet van ons mense gebruik maak om ook te help met die padwerke."
Aurelia Oliphant, woordvoerder van die Oudtshoorn-munisipaliteit, het gesê dat die munisipaliteit sover moontlik probeer gebruik maak van plaaslike kontrakteurs. Volgens haar maak Zebra reeds sedert 2006 gebruik van plaaslike kontrakteurs om werk te doen.
"Spesialis masjinerie was nodig om die kwaliteit van die werk te handhaaf. Die strate waarop herstelwerk tans gedoen word is strate wat swaar verkeer dra. Die omvang van die werk is van so 'n aard dat groot areas van die padoppervlakte tot 'n bepaalde diepte uitgegrawe moet word, met bitumen behandelde kroonlaag gevul word en daarna met bitumen asfalt geseël word. Hierdie tipe werk kan net deur geskikte masjinerie met gesertifiseerde operateurs gedoen word."
Volgens haar was daar op 'n vorige geleentheid van 'n sub-kontrakteur gebruik gemaak om herstelwerk op 'n provinsiale hoofpad te doen.
"Hulle het nie oor die regte apparate en masjinerie beskik nie en die kwaliteit van die werk was swak."
Sy sê plaaslike kontrakteurs word so vêr moontlik gebruik om enige werke op 'n kleiner skaal te doen.
Lees 'n vorige artikel hier: Kontrakteurs ontwrig padwerke
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'