Update
DE RUST NUUS - Die saak teen 'n man van De Rust, wat 'n 70-jarige vrou helder oor dag in 'n straat van haar handsak met haar selfoon, beursie en ander besittings beroof het, is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof vir uitspraak tot later die maand uitgestel.
Alfonzo Malgas (24) word van roof met verswarende omstandighede aangekla nadat hy die oggend van 17 Februarie 2020 die 70-jarige Valerie Steyn van agter genader en haar handsak gegryp het.
Hy het haar later glo met 'n klip teen die kop gekap en met die handsak weggehardloop, maar is nog dieselfde dag in hegtenis geneem.
Die skraalgeboude Steyn het Woensdag getuig dat sy die betrokke oggend onderweg was huis toe en kortpad met 'n grondpad gekies het, met huise aan die een kant.
Sy het voetstappe agter haar gehoor en gevoel iemand gryp aan haar handsak. In die stoeiery het sy geval en haar gewrig gebreek. Malgas het toe 'n groot klip opgetel en haar daarmee teen haar kop gekap.
Sy kon 'n beskrywing van haar aanvaller aan die polisie gee en het nog dieselfde dag haar besittings teruggekry.
Malgas erken in 'n pleitverduideliking dat hy die vrou van haar handsak en besittings beroof het, maar dat hy haar nie met 'n klip gekap het nie.
Die staatsaanklaer, Brandon Smith, vra vir Malgas se skuldigbevinding soos aangekla.
Malgas se regshulpprokureur, Wenzel Botha, vra die hof dat hy net aan gewone roof skuldig bevind word. Volgens hom sou 'n mens ernstige beserings verwag indien die klaer met so 'n groot klip, soos wat sy verduidelik het, teen die kop gekap word. Sy het haar gewrig in die stoeiery om die handsak gebreek, maar dit was nie die beskuldigde se bedoeling om haar seer te maak nie.
Streeklanddros Sylvia Mandla, het aan Malgas verduidelik dat hy tussen 15 en 20 jaar tronkstraf opgelê kan word indien hy aan roof met verswarende omstandighede skuldig bevind word en die saak vir uitspraak tot 27 Februarie uitgestel.
Vorige artikel: 70-jarige vrou helder oordag beroof
'Ons bring jou die nuutste De Rust, Klein Karoo nuus'