OUDTSHOORN NUUS - Om 62 jaar getroud te wees is nie vir almal beskore nie, maar dit is 'n mylpaal wat Issie (84) en Wynand du Plessis (92) die afgelope naweek bereik het.
Die egpaar is in 1962 in Mosselbaai getroud. Sy was pas klaar met matriek toe sy die liefde van haar lewe ontmoet het.
"Hy is sewe jaar ouer as ek. Ek het geweet hy is my trouman, want hy het deursettingsvermoë. Ek het vir hom gesê ek wil minstens vyf jaar werk voor ek trou en hy het gesê dat hy glad nie omgee om vir my te wag nie. Hy het die hele vyf jaar gewag voor ons getrou het."
Wynand sê hulle was 'n groepie vriende wat saam tennis gespeel het en dit is waar hy Issie die eerste keer raakgesien het.
"Sy was die mooiste vrou daar en waarskynlik in die hele Mosselbaai, ek het dadelik geweet ek gaan met haar trou. Sy is nog steeds die mooiste vrou," vertel hy.
Wynand en Issie du Plessis op hul troudag.
Die liefde blom nog steeds tussen dié twee.
Issie en Wynand is dit eens dat die belangrikste faktore om 'n huwelik te laat werk geloof, liefde, toewyding en natuurlik, baie geduld is.
"Ons was en is nog steeds beste vriende. Dit het spanwerk in die huis maklik gemaak. Ons het mekaar gehelp kinders grootmaak en takies verrig. Ons het ook mekaar se belange op die hart gedra. Ons het baie goed saam gedoen soos gaan stap en kamp, maar dit is ook belangrik om mekaar te respekteer en alleentyd te respekteer."
Issie sê hulle het baie krisisse saam oorkom.
"Ons het saam gehuil en saam gebid en saam-saam daar deurgekom. Dit is die belangrikste. Ons Vader het ons altyd deurgedra."
Die egpaar het van Mosselbaai na Goodwood verhuis waar hulle gewerk het. Hulle het in 1994 in Oudtshoorn kom aftree.
Ronel Nel, hul dogter wat ongeveer 'n jaar reeds by hulle woon, vertel dat haar ouers nooit met mekaar baklei het nie en dat hulle altyd mekaar met geweldige respek behandel het.
"Hulle het waarskynlik vir mekaar kwaad geraak, maar het dit nooit voor ons gedoen nie. Dit was so mooi om te sien met hoeveel respek hulle mekaar behandel het."
Die egpaar het twee kinders, Gerda en Wynand, drie kleinkinders en twee agterkleinkinders waarop hulle baie trots is.
"Ons probeer vir hulle almal 'n huis skep. Dit is nie net 'n gesinshuis nie, maar 'n familiehuis."
"Dit is altyd so lekker as die kinders en kleinkinders kom kuier en hulle sê dat hulle nou by die huis is," vertel Issie.
Die egpaar sê hulle sien uit daarna om te sien wat die volgende 62 jaar vir hulle inhou.
‘Ons bring jou die nuutste Tuinroete, Hessequa, Karoo nuus’