OUDTSHOORN NUUS - Die saak teen 'n man wat teregstaan op aanklag van verkragting en een van seksuele aanranding is Vrydag in die Oudtshoorn-streekhof vir verdere verhoor uitgestel.
Die 44-jarige vrou, wat glo deur die beskuldigde, Eden Daniels (50) verkrag is, het getuig dat 'n familielid, haar die aand van 15 Augustus 2020 by haar huis in Rose Valley kom roep het om saam met hulle te ry.
Die slagoffer wou by die familielid weet of daar fout by die huis is.
Die familielid het toe glo by haar eie huis uitgeklim met die belofte dat sy iets wou gaan kry, waarna Daniels met die klaer weggejaag en haar op 'n afdraaipad na Johnson's Bricks buite die dorp in sy motor verkrag het.
Daniels het glo gedreig dat hy haar sou skiet indien sy haar nie uittrek nie.
Volgens die slagoffer het sy dit gedoen omdat sy vir haar lewe gevrees het. Die beskuldigde het daarna glo vir haar gesê dat sy huis toe moet loop terwyl dit gereën het, het sy getuig.
Die vrou se 16-jarige dogter het deur middel van 'n tussenganger getuig dat haar ma die betrokke aand "bang, bewerig en huilend" by die huis aangekom en haar meegedeel het dat "Oom Eden" haar verkrag het. Sy het saam met haar ma gehuil waarna hulle die polisie ontbied het.
Daniels sal volgens sy regsverteenwoordiger, adv. Benito Metembo, erken dat hy gemeenskap met die 44-jarige klaer gehad het, maar dat dit met haar toestemming was. Hy sal ook getuig dat sy vrywillig saam met hom gery het en ook self uitgetrek het.
Die kruisondervraging van die vrou moes twee keer onderbreek word omdat sy te emosioneel geraak het.
Die klagte van seksuele aanranding gaan oor 'n voorval dieselfde aand toe Daniels glo 'n 32-jarige vrou betas het.
Hyron Goulding is die aanklaer en die saak dien voor streeklanddros Ntsoki Moni.
Die saak is vir voortsetting tot 9 Desember uitgestel.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'