OUDTSHOORN NUUS - Daar is sprake dat Oudtshoorn teen die jaar 2000, 'n inwonertal van 100 000 kan hê, laerskole word in Bridgton gebou, Glenara, 'n bekende baken in die dorp, is onder bespreking, geld word met straatkollektes ingesamel, Augustusmaand is soos elke jaar Langenhovenmaand en die Middelbare Skool Volmoed word opgegradeer.
3 Augustus 1968
• Die Departement van Kleurlingsake beplan om in die volgende 5 jaar nuwe geboue vir Kleurlingonderwys in Bridgton te bou Die sewe laerskole vir Kleurlingonderwys voldoen nie in die aanvraag nie. Aan die begin van 1968 was die inskrywing 3 300 Drie van die skole moet dubbelskofte werk (namiddagklasse) om die tekort aan klasruimte aan te vul. Die Independente Kerkskool van Noordeinde, vroeër die Koninginstraatskool, is deur die Departement oorgeneem en sal in Bridgton hervestig word as die Laerskool Bergsig. Twintig klaskamers gaan op die nuwe perseel gebou word. Ook die De Villiers Laerskool (NGK) sal 24 nuwe klaskamers bykry Kontrakteurs is nou ook besig om die ou Kleulingkollege-gebou tot 'n groot laerskool uit te brei.
• Die burgemeester JJ Raubenheimer woon 'n konferensie in Durban oor stedelike ontwikkeling by waar die Administrateur van Natal T Gerdener 'n stelling maak wat hom as burgemeester aanvuur om met mening die dorp te moderniseer. T. Gerdener is van mening dat weens die hoër groeikoers in SA, daar teen die jaar 2000 tot 40 stede met 'n inwonertal van 100 000 kan ontstaan. J J Raubenheimer is oortuig dat Oudtshoorn hierdie pad sal kan volg en die reus van die Suid-Kaap kan word. Hy verwys na die sentrale ligging van die dorp en die groot verbeterings wat al op talle vlakke plaasvind: soos die Koos Raubenheimerdam, die teer van paaie, sloping van ou geboue en die aanlê van die aller modernste sakesentrums.
10 Augustus 1968
• Die Metodiste Kerk in Bongolethu bou eiehandig 'n kerk en 'n pastorie. Die gemeente van 150 lidmate het R 3 800 gaan leen, die bouwerk einde Februarie voltooi en die kerk geopen. Eerwaarde Colin Clarke het die Oudtshoorn Courant meegedeel dat sy gemeentelede nou met die hulp van straatkollektelyste fondse gaan insamel om die lening te betaal.
• Op 'n vergadering van die Stadsraad is bekend gemaak dat die ACVV die Glenara manskoshuis van die Onderwyskollege wil aankoop om 'n bewaarskool daar te vestig. Minister Chris Heunis het reeds sy goedkeuring gegee. (Die planne het egter nooit realiseer nie en die grond oorkant die St Judes kerk waar die koshuis gestaan het is leeg.)
• N A Smit, voorsitter van die museum se trusteeraad, vra dat die publiek die straatkollekte om geld in te samel vir die restourasie van die Hoër Seunskool, waar die C P Nel Museum hervestig gaan word, te steun
• Ten spyte van 'n berig, die vorige week dat Middelbare Skole gevaar staan om gesluit te word, word daar berig dat opknappingswerk aan die Middelbare Skool Volmoed verrig word. Elektrisiteit word aangelê teen 'n koste van R 8 000. 'n Koshuis vir 30 leerders word aangebou, omdat daar in die dorp 'n tekort aan koshuisverblyf is. Ook het die Volmoed-leerders vir die eerste keer hulle eie skooldrag. Die lesers word daarvan verseker dat Volmoed Middelbare Skool nie sal sluit nie...
14 Augustus 1968
• Op Sondagnamiddag 11 Augustus om 15:30 het die jaarlikse gebruiklike kranslegging op C J Langenhoven se graf in die plaaslike kerkhof plaasgevind.
Ds W C de Swardt van Oudtshoorn-Suid het die plegtigheid gelei In die berig word 'n lang lys van die verskillende instansies en hulle verteenwoordigers weergegee.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'