OUDTSHOORN NUUS - Die groepsgebiedewet eis die einde van die oudste bestaande kerkgebou die Independente Kerk, straatname word verander en paaie geteer, daar word na olie gesoek en Laerskool Van Reede brei uit.
17 Julie 1968
Weens die Groepsgebiedewet verloor Oudtshoorn en George elkeen van hulle oudste geboue. Die Independente Kerk op die hoek van St John- en Baron van Reedestraat wat in 1838 gebou is nog voordat Oudtshoorn amptelik 'n dorp was, gaan gesloop word. Die kerk is vir R44 000 aan die firma Russell en Kie verkoop. 'n Nuwe kerk word vir hierdie gemeente in Bridgton gebou. Die pastorie is tot 'n sakeperseel verklaar. Op George is die Sendingkerk in Hiberniastraat vir R66 000 aan 'n sakeonderneming verkoop en 'n nuwe kerk word in Rosemoor gebou.
In 'n klein beriggie op die voorblad word bekendgemaak dat die benaming Bongolethu vir Klippieseiland deur die Departement Bantoe Administrasie en Ontwikkeling goedgekeur is. 'n Ander beriggie lui dat die landmeter-generaal ook die naamsverandering van drie strate goedkeur: Flippie Langenhovenstraat na Simpsonstraat, Suidstraat na Rademeyerstraat en Georgeweg na Langenhovenweg.
Laerskool Van Reede se sportgeriewe gaan aansienlik uitgebrei word volgens die skoolhoof, mnr. H Prins. Die Departement van Onderwys het die groen lig gegee vir die aankoop van genoeg grond vir 'n rugbyveld, 'n krieketveld en 'n atletiekbaan.
20 Julie 1968
Op 'n Afdelingsraadsvergadering word die besluit om die sementpad tussen Oudtshoorn en Calitzdorp met 'n nuwe geteerde pad te vervang, uitgestel. Die burgemeester J J Raubenheimer is van mening dat die pad tussen Uniondale en Oudtshoorn, die Meiringspoortpad en die Swartbergpas eerder aandag moet kry. Meiringspoort word van twee kante aangepak, nl. van De Rust en van Prins Albert. Dieselfde word met die Swartbergpas beoog, die eerste 4 myl van die pas aan Oudtshoorn se kant, is al geteer (Die teer van hierdie historiese pas sou egter nooit plaasvind nie, want die pas is intussen tot 'n historiese gedenkwaardigheid verklaar)
Die soektog na olie in die Suid-Kaap is groot nuus. Op Eldorado, 'n plaas in Riversdal het die maatskappy Midlands Oil 'n reuse-olieboor van 600 ton opgerig Duitse tegnici het dit staangemaak. Op die plaas Boontjieskloof is daar ook tekens van 'n olie opgetel. Selfs langs die Rooikoppe is wetenskaplikes besig om vir olie te soek. Die verwagtinge is groot...
Vervoerkoste raak duur en die AA laat die lesers weet dat dit deesdae meer as 11c per myl kos om 'n groterige voertuig op die pad te hou, vir die kleiner motor kos dit al 7c per myl!
27 Julie 1968
Ses dorpe in die Suid-Kaap wil by die Evkom-netwerk aansluit. Die eerste vier was Oudtshoorn, George, Mosselbaai en Knysna. Weens die groeiende ekonomie word die navraag na krag al hoe groter. Ladismith en Calitzdorp vra ook om aan te sluit.
31 Julie 1968
In Prins Albert op die plaas Klein Waterval van Louis Muller, is die boorwerk na moontlike olie na nege maande gestaak. Die maatskappy Soekor verskuif na ander moontlike bronne op plase in die omgewings van Pearston (Craimere) Aberdeen (Schietfontein) en Graaff-Reinet (Vrede).
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'