CALITZDORP NUUS - Die verhoor van 'n vrou en drie mans van Bergsig, Calitzdorp, wat van roof met verswarende omstandighede aangekla word, is voorlopig vir verdere verhoor in die Oudtshoorn streekhof tot later die maand uitgestel.
Simoné Karelse, Keano Hess, Roland Meiring en Sabramay Valloo, word daarvan aangekla dat hulle op 6 Oktober 2019 vir Niklaas Anta (16) met 'n mes gedreig en van sy selfoon ter waarde van R800 beroof het.
Hulle het volgens die klagstaat gesamentlik en met een doelwit opgetree.
Karelse het getuig dat sy, Hess en Meiring saam gestap het na Clinic Hill om Meiring se R200 by die klaer te gaan kry wat by ene “Tamatie” in ‘n karavaan gekuier het.
Toe hulle daar kom het Hess, Meiring, “Tamatie” en van sy vriende glo “messe en kapmesse vir mekaar uitgehaal.” Van hulle was glo lede van die 28’s bende.
Sy het ontkan dat sy die selfoon met geweld van Anta geneem het.
Meiring het in sy getuienis ontken dat hy ‘n mes teen Anta se keel gedruk het.
Die saak word deur streeklanddros Ntsoki Moni aangehoor en is vir Meiring se verdere getuienis tot 28 Mei uitgestel.
Karelse, Hess en Valloo is in aanhouding.
'Ons bring jou die nuutste Calitzdorp, Klein Karoo nuus'