OUDTSHOORN NUUS - Die 25ste Klein Karoo Nasionale Kunstefees (KKNK) se bekendstelling is verlede Sondag by die Norval-stigting se kunsmuseum in Tokai, Kaapstad, gehou. Die tema van die 2019- fees, wat deur die seremoniemeesters Nina Swart en Paul Amas, aangekondig is, is Kultuurdiere.
Kunstenaars vereer
Vier kunstenaars is tydens hierdie spesiale geleentheid vir hul bydrae tot die kunste deur Kunste Onbeperk vereer.
Athol Fugard is vereer met die Kunste Onbeperk-prys vir sy Lewensbydrae tot die Teater.
Die commendatio is deur die teaterlegende Mannie Manim gelewer. Fugard se toneelstuk Statements After an Arrest under the Immorality Act sal in 2019 as medeproduksie saam met die Fugard-teater by die KKNK debuteer.
Amanda Strydom het die Kunste Onbeperk-prys vir haar Lewensbydrae tot Musiek ontvang. Paul Boekkooi het die commendatio gelewer. Sy is die enigste kunstenaar wat by elk van die KKNK se 24 feeste opgetree het. Sy sal in verskeie produksies by KKNK25 optree, asook in haar solovertoning, Amanda Strydom – Miss Mandy.
Lizz Meiring is vereer vir haar bydrae as aktrise, skrywer, regisseur en mentor asook vir haar uitsonderlike werk vir die Teaterbystandsfonds en haar onbaatsugtige ondersteuning van jong talent en ander in die bedryf. Sy het die Kunste Onbeperk-prys vir Diens aan die Kunste ontvang en Pieter-Dirk Uys het die commendatio gelewer. Sy sal te sien wees in haar debuut-solovertoning Non Met Vakansie gedurende KKNK25.
Lynelle Kenned het reeds groot 'n indruk gemaak as aktrise, klassieke sangeres en in blyspele, en het al verskeie pryse verower. Sy ontvang die Kunste Onbeperk-prys vir Jong Stem as 'n jong kunstenaar. Die Hertzog- pryswenner Tertius Kapp het die commendatio gelewer. Kenned sal ook by verskeie produksies gedurende KKNK25 betrokke wees.
Amanda Strydom.
Lizz Meiring. Foto: Jaco Bothma
Absa weer borg
Absa het tydens dié geleentheid hul hernude ondersteuning van die KKNK aangekondig en is as hoofborg bevestig. David Wingfield, bemarkingshoof van die Absa Groep, het in 'n verklaring gesê: "Africanacity is 'n unieke woord wat ons geskep het vir die kenmerkende vermoë van Afrikane om altyd merkwaardige maniere te vind om dinge tot stand te bring. Kunstenaars en kultuurpraktisyns het dit deur die jare reggekry om dinge te laat gebeur wat 'n onuitwisbare impak maak op ons samelewing se psige. Dit is juis daarom dat ons voortgaan om hulle te ondersteun en geleenthede te skep waar hulle kan gedy. Die KKNK bied 'n platform waar al hul talente byeengebring kan word en met mense uit alle kringe gedeel kan word."
Athol Fugard Foto: Jesse Kate Kramer
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'