OUDTSHOORN NUUS - Vier gesinne van Oudtshoorn is dakloos gelaat na 'n brand die opslaanhokke waarin hulle gewoon het, verwoes het.
Die brand het verlede Vrydagaand in Xolastraat, Bongolethu uitgebreek.
Volgens Rozelda Laban, die vrou op wie se erf die vier hokke gestaan het, was dit 'n groot skok.
"Ek het baie laat die aand van die werk af gekom. Ek is nie heeltemal seker hoe die brand gebeur het nie.
"Ek weet daar was 'n bakleiery tussen een van die gesinne se huismense.
"Die mense is uit die hok uit en het die pad afgeloop. Ek het my nie veel gesteur nie.
"Ek het net skielik gehoor mense skree dit brand.
"Dit het net so vinnig gebeur en ewe skielik toe is al vier die hokke tot op die grond afgebrand.
"Die mense wat hier gewoon het het net mooi niks oor. Alles is weg," het sy aan vertel.
Een man, Hendrik Esau, is met brandwonde na die hospitaal geneem.
Van die slagoffers van die brand is 'n 29-jarige gestremde vrou en ses kinders tussen die ouderdomme van een en 12 jaar oud.
"Dit is hartverskeurend om te sien hoe vinnig 'n brand kan uitbreek en hoe vinnig mense alles - hul hele lewe - net so kan verloor."
Die oorsprong van die brand is nie bekend nie, maar daar bestaan 'n vermoede dat 'n kers moontlik omgeval het.
ARTIKEL & FOTO: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'