OUDTSHOORN NUUS - Die Oudtshoorn-polisie ondersoek vier klagtes van huisbraak by 'n winkelsentrum in Adderleystraat.
Die voorval het vroeg Sondagoggend by vier winkels wat aanmekaar grens gebeur.
Volgens die winkeleienaars het die inbrekers toegang tot die gebou gekry deur by 'n badka-mer agter Money Tree in te breek. Money Tree is die enigste winkel in die sentrum waarby hulle nie ingebreek het.
Die booswigte het die deur by die badkamer oopgetrap waarna hulle die pleisterbordmuur wat aan Chloë's Boutique grens oopgebreek het.
Die eienaar van dié winkel sê die inbrekers het sy hele winkel geplunder.
"My winkel is in twee dele verdeel en word deur 'n deur geskei. Die deur is ook oopgetrap. Die messe waarmee hulle die muur stukkend gekap het, het gebuig op die tafel tussen die lappe gelê. Hulle het die hele plek omgekrap en toe deur my muur na die haarsalon langsaan toe gebreek," het hy gesê.
By Loma's Hair Boutique het die skelms ook geplunder en, volgens 'n werknemer, Cup a Soup gedrink. Hulle het vermoedelik van skroe-wedraaiers, wat na die voorval op die tafel gelos is, gebruik te maak om deur nog 'n muur na Market Freezies deur te breek. Freezies is die enigste winkel met 'n alarmstelsel. Die alarm het afgegaan en met die aankoms van die sekerheidsmaatskappy was die skelms reeds weg.
Hier het die inbrekers 'n kasregister stukkend gegooi waaruit hulle R1 000 kontant gesteel het. Hulle het ook R1 500 se lugtyd en sigarette gesteel.
Die eienaar van dié winkel het kringtelevisie-beeldmateriaal wat die oggend van die voorval geneem is.
In die beeldmateriaal kan gesien word hoe twee skelms by die gat in die muur van die haarsalon na Freezies klim. Die een inbreker het oor die toonbank geklim waar hy die kasregister op die grond stukkend gegooi het. Die inbrekers was nie lank in die winkel nie en het vinnig weer deur die gat in die muur hul weg na buite gevind.
Niemand is nog in verband met die voorval in hegtenis geneem nie.
Die eienaars van die winkels sê dat inbrake en selfs pogings tot inbrake nie iets nuuts is by die sentrum nie.
Lees 'n vorige artikel: 4 Inbrake by winkelsentrum
ARTIKEL & FOTO'S: LIEZL VAN NIERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'