OUDTSHOORN NUUS - ’n Man met 20 vorige veroordelings waarvan 16 vir diefstal, is verlede Vrydag in die Oudtshoorn-landdroshof weer aan diefstal skuldig bevind en 30 maande gevangenisstraf opgelê.
Eddie Blaauw (41) het skuldig gepleit op aanklag van winkeldiefstal na hy op 15 Julie vanjaar by Hang Feng-supermark twee blikkies parfuum ter waarde van R150 gesteel het.
Volgens hom was hy werkloos en honger en wou hy die parfuum gaan verkoop.
Landdros Stephanie Strydom het vir vonnis in ag geneem dat Blaauw skuldig gepleit het maar bevind dat nog 'n opgeskorte vonnis, soos wat hy versoek, nie ‘n gepaste vonnis sal wees in die lig van sy lang misdaadrekord nie.
“U het ‘n probleem. Ek weet nie wat verkeerd geloop het in u lewe nie, maar u sal nou moet besluit.”
Blaauw is gevonnis tot 30 maande gevangenisstraf ingevolge Art 276 (1) (b) wat beteken dat hy ten minste twee derdes van die vonnis sal moet uitdien voordat hy om parool aansoek kan doen.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'