OUDTSHOORN NUUS - 'n Emosionele toneel het hom Maandag langs die De Rust-pad afgespeel toe familie en vriende van drie vriende wat Saterdagnag in 'n botsing dood is, 'n kranslegging op die ongelukstoneel toneel gehou het.
Die motorwrak met die liggame van Francois Botha, Albert Jacobs en Anton de Ridder is eers Sondagoggend in 'n uitgrawing op die treinspoor tussen De Rust en Dysselsdorp ontdek.
Dit is onduidelik hoe laat Saterdagnag die ongeluk gebeur het.
Volgens inligting wat die Oudtshoorn Courant bekom het, het die drie vriende in De Ridder se Opel vanuit Dysselsdorp gery.
Die bestuurder van die voertuig het nie by die stopstraat met die aansluiting van die hoofpad stilgehou nie.
Die motor is oor die hoofpad, by 'n verkeersbord verby en het in die diep uitgrawing tot op die treinspoor geval en neus eerste geland.
Niemand was bewus van die botsing nie en dit blyk dat iemand om ongeveer 09:00 Sondagoggend die wrak en die liggame opgemerk het.
Francois Botha se neef, Jann Botha, het tydens die kransleggingsdiens gesê dat dié drie mans baie goeie vriende was.
"Hulle was vriende tot die dood. Ons is hartseer vir die manier waarop hulle van ons af weggeneem is.
"Ons is hartseer dat ons nie eens geweet het van die ongeluk tot die volgende dag nie, maar ons weet dat die drie van hulle nou saam in vrede sal rus."
Francois Botha
Botha het sy neef as 'n familieman beskryf.
"Hy was lief vir sy mense. Hy was altyd bereid om almal te help. Die mense wat vandag hier staan sal getuig daarvan. Ons was trots op hom vir die mens wat hy was."
Volgens hom was Botha 'n kranige sportman en het hy vir Collegians-rugbyklub op Oudtshoorn gespeel.
Botha was 'n pa van vier kinders tussen die ouderdomme van ses en 14 jaar oud.
Botha word Saterdag om 11:00 vanuit die Independente Kerk in Bridgton begrawe. Die diens sal vooraf gegaan word deur 'n diens om 10:00 by sy huis in Rose Valley 16735.
Albert Jacobs (Jimmie)
Shirley Plaatjies, Jacobs se vriendin sê dié drie vriende was by Van der Berg Vervoer werksaam.
"Ons het hom Jimmie genoem. Hy was 'n ongelooflik mens en 'n pa van drie kinders. Hy was lief vir grappies maak en het nooit mense iewers gelos sonder om eers 'n grappie te maak nie," het sy vertel.
Jacobs se kinders is tussen een en 10 jaar oud.
Vriende en familie-lede by die ongelukstoneel.
Plaatjies sê die ongeluk is vir hulle 'n groot skok om te verwerk.
"Ons weet nie of hy nog gelewe het na die ongeluk nie. Ons weet nie hoe lank hy daar gelê het nie, ons weet niks. By sy lykskouing wou hulle nie eens sy gesig vir ons wys nie, want hy het glo te sleg gelyk," het sy gesê.
Sy begrafnisdatum was teen druktyd nog nie bekend nie.
Die Oudsthoorn Courant kon nie daarin slaag om De Ridder se familie te kontak nie.
Anton de Ridder
Die polisie op Dysselsdorp het by navraag gesê hulle het geen inligting oor die botsing nie, maar het bevestig dat 'n saak van strafbare manslag ondersoek word.
Lees 'n vorige artikel: 3 sterf in ongeluk
ARTIKEL EN FOTO'S: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'