Update
VAN WYKSDORP NUUS - "Dit was 'n haarfynbeplande rooftog. Alles het seepglad verloop."
So het George van Tonder, die eienaar van Twaksak Supermark op Van Wyksdorp, Maandag in die Oudtshoorn-streekhof getuig oor 'n rooftog in 2017. Hy is van derduisende rande, sigarette, 'n duur selfoon, skootrekenaar en sy Ford Ranger-bakkie beroof.
Die verhoor van die drie verdagtes, Zuka Martin (30) van Cradock, Liberty Mpala (31) van Kuilsrivier en Malavine Simakade (29 ) van Langa, is Maandag na die getuienis van die klaer vir verdere getuienis uitgestel.
Die rooftog op Vrydag 23 Junie 2017, het destyds skokgolwe deur die Klein-Karoo gestuur nadat die gewapende rowers met Van Tonder se Ford Ranger en hul eie Hyundai-bussie weggejaag het. Hulle is deur die polisie van Ladismith agternagesit en die polisie van Laingsburg, waarheen die voertuie op pad was, is ook in kennis gestel.
'n Skietery het gevolg en twee van die mans in die bussie het gesterf toe dit omgeslaan het. Die drie verdagtes staan tereg op sewe aanklagte, een van roof met verswarende omstandighede, een van diefstal van 'n motorvoertuig, een van die besit van 'n vuurwapen, drie vir besit van verbode vuurwapens en een vir die onwettige besit van ammunisie.
Van Tonder het Maandag getuig hoedat die vermeende rowers hom en sy personeel met kabelstroppe vasgebind en sy vrou beveel het om die kluis oop te sluit. Hy is met 'n vuurwapen teen die kop geslaan, vasgebind en die rowers het met sakke sigarette en kontant van tussen R260 000 en R270 000 op die vlug geslaan.
Volgens Van Tonder sal hy nie die mans kan uitken nie. Een het 'n balaklawa oor sy kop gehad en die ander 'n wolmus. Hy kon wel sien dat die man agter die stuur van die Hyundai-bussie, 'n groot en lang man was, soos een van die beskuldigdes in die hof.
Volgens hom kan hy nie alles in die fynste besonderhede onthou nie omdat dit so vining gebeur het. Van Tonder het getuig dat die meeste van die geld teruggevind is, maar dat die rooftog baie traumaties was en sy personeel vandag nog bang is om alleen in die supermark te werk. Hy is 'n boer en kan nie aldag self daar wees nie.
"Die rowers het hul huiswerk goed gedoen en alles het seepglad verloop," het hy getuig.
Die saak word deur streeklanddros Retha Pretorius aangehoor en die drie verdagtes word onderskeidelik deur Gideon Badenhorst, adv. Benito Metembo en Eugene Roos van die plaaslike Regshulpraad verteenwoordig. Die mans bly in aanhouding.
Lees vorige artikels hier:
'Ons bring jou die nuutste Van Wyksdorp, Klein Karoo nuus'