OUDTSHOORN NUUS - Twee persone is die afgelope naweek, by twee afsonderlike geleenthede, deur die Oudtshoorn-polisie vir die onwettige besit van ammunisie in hegtenis geneem.
Volgens kaptein Louis Visser, woordvoerder van die Oudtshoorn-polisie, is die eerste persoon, 'n 27-jarige man, Saterdag by 'n woning in Steenboklaan in hegtenis geneem.
"Die polisie het ongeveer 20:30 die man deursoek en 40 haelgeweer-patrone in sy besit gevind. Hy het ook dwelms in sy besit gehad."
Volgens Visser is die tweede persoon (47) Sondagoggend in hegtenis geneem na die polisie 'n .38-ronde in sy besit gevind het.
"Die polisie vra dat die gemeenskap die polisie moet inlig as hulle bewus is van persone wat ammunisie besit sonder dat hulle 'n lisensie daarvoor het," het hy gesê.
ARTIKEL: LIEZL VAN NIEKERK, OUDTSHOORN COURANT-JOERNALIS
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'