OUDTSHOORN NUUS - 'n Man en 'n vrou van Gauteng wat byna twee jaar gelede op die N1 buite Beaufort-Wes met Mandrax-poeier ter waarde van meer as R139 000 in hul besit in hegtenis geneem is, is verlede week in die Oudtshoorn-streekhof lang vonnisse opgelê nadat hulle besluit het om skuldig te pleit.
Richard Tshirando (60) en Beverley Manco (40), was sedert hul inhegtenisneming op 17 Maart 2016 in aanhouding.
Tshirando is deur streeklanddros Retha Pretorius skuldig bevind aan handeldryf in dwelms en tot 10 jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan twee jaar vir vyf jaar opgeskort is.
Hy is ook onbevoeg verklaar om 'n vuurwapen te besit en mag ook nie dranklisensie bekom nie.
Manco is vir die besit van dwelms tot agt jaar gevangenisstraf gevonnis waarvan vier jaar voorwaardelik vir vyf jaar opgeskort is.
Die landdros het met vonnisoplegging gesê Tshirando en Manco is skuldig bevind aan ernstige misdrywe wat tans hoogty vier en dat dwelms bydra tot ernstige misdade en 'n vernietigende impak op veral die jeug het.
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'