Update
OUDTSHOORN NUUS - Twee mans, wat besig was om 'n hoë boom af te saag, is ongedeerd nadat die steier waarop hulle gestaan het meegegee het. Die twee mans was Maandagoggend sowat 12 m bo die grond in 'n erf in Simpsonstraat besig om 'n tak af te saag toe die steier meegee.
Een van die mans kon daarin slaag om die tak waaraan hulle wou saag, vas te gryp terwyl die ander man met steier en al grond toe is. Die steier het die hoë tuinmuur getref en die man is bo-oor die muur tot in die pad geslinger terwyl sy kollega vir lewe en dood aan die hoë tak geklou het.
'n Elektriese kontrakteur het toevallig by die voorval verbygery en besef die man in die boom sal nie baie lank kan vashou nie.
Hy het na sy huis toe gejaag en 'n lang leer gaan haal. Intussen het nooddienswerkers by die toneel aangekom en die man wat geval het behandel.
Met behulp van De Jager se leer kon 'n brandweerman die man, wat vir meer as 15 minute aan die tak moes vasklou, na veiligheid bring.
Die voorman van die span wat die boom moes afsaag, het Dinsdag bevestig dat beide werkers ongedeerd is.
Die man wat in die pad beland het, het slegs kneusplekke opgedoen. Hy het gevra dat hulle name nie gepubliseer word nie.
Paramdici behandel die man wat saam met die steier geval het.
Lees vorige artikels hieronder:
'Ons bring jou die nuutste Oudtshoorn, Klein Karoo nuus'